Vrae wat dikwels gevra word

Hier is die antwoorde op vrae oor die Noordelike Helpmekaar Studiefonds wat dikwels by studente/ouers opduik.

 

Vraag:  Wat is die verband tussen die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds(NHSF) en die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg?

Antwoord: Daar is geen verband nie, behalwe die naam Helpmekaar.

 

Vraag: Wat is die verband tussen die Kaaplandse Helpmekaar-studiefonds en die Noordelike Helpmekaar-studiefonds (NHSF)?

Antwoord:  Beide fondse het dieselfde oorsprong , maar elkeen funksioneer onafhanklik.

Die Kaapse Helpmekaar bedien voornemende aansoekers in die Wes-, Oos- en Noordkaap, terwyl die Noordelike Helpmekaarstudie-fonds (NHSF) aansoeke vanuit die res van die RSA hanteer.

 

Vraag: Vanwaar die naam “Helpmekaar”? Dit klink so asof dit iets met die Groot Trek te doen het.

Antwoord:  In 1914 het  ’n Rebellie uitgebreek teen die regering van die dag omdat oorlog teen Duitswes-Afrika (tans Namibië) verklaar is.

Een van die belangrikste redes daarvoor was dat daar gevoel is dat die Duitsers die Boere tydens die Anglo-Boere-oorlog teen Engeland gehelp het.

Nadat die rebelle gevang is, het hulle groot boetes gekry en was daar ook ander eise wat betaal moes word.

Die bedrag was só groot dat baie rebelle bankrotskap in die oë gestaar het. Die gemeenskap het begin handevat om geld vir hierdie afbetaling in te samel en dit het die naam Helpmekaar gekry.

Al die geld wat nodig was, is ingesamel en dit wat oorgebly het, is tussen die 4 provinsies verdeel met die doel om leerlinge te help om verder te studeer.

Mettertyd het die Natalse Helpmekaar saamgesmelt met die Kaapse Helpmekaar en die Vrystaatse Helpmekaar het hulle fondse oorgedra aan die Vrystaatse NG-Kerk.

 

Vraag: Hoeveel studente studeer vanjaar danksy studielenings van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds?

Antwoord: Daar is tans meer as 200 studente wat deur die NHSF gehelp word. Van dié getal, studeer ongeveer die helfte tans, terwyl die ander helfte aan hulle lenings terugbetaal.

 

Vraag: Hoeveel studente het deur die jare by Helpmekaar lenings gekry?

Antwoord: Ongeveer 2000.

 

Vraag: Waarom gee Helpmekaar net studielenings en nie studiebeurse ook nie?

Antwoord: Om te studeer, is baie duur. As die NHSF beurse in plaas van lenings moes gee, sou die beskikbare bron vir finansiering van die NHSF baie gou uitgeput wees.

Die NHSF gee wel jaarliks meriete-toekennings vir studente wat baie goed presteer het.

Die bedrag  dien as aanmoediging vir die ontvanger en word, soos ’n beurs, nie terugbetaal nie.

 

Vraag: Teen watter koers word studielenings deur Helpmekaar beskikbaar gestel?

Antwoord: Terwyl daar gestudeer word, is die rentekoers van die lening 3 persentasiepunte onder prima.

Wanneer die student afstudeer, verhoog die koers op die uitstaande lening tot prima.

 

Vraag: Hoe moet die studielenings terugbetaal word?

Antwoord: Die terugbetalingstermyn is 2 jaar vir elke studiejaar.

Dus, indien ’n student ’n lening vir 3 jaar ontvang het, het die student 6 jaar om die lening teen gelyke maandelikse paaiemente af te betaal.

Die rente en terugbetalingsbedrae wat ontvang word, word weer aangewend om nuwe aansoekers met meriete te help.

 

Vraag: Gestel ’n student druip gedurende sy of haar studies – hoe beïnvloed dit sy of haar studielening?

Antwoord: Die NHSF het simpatie daarmee dat studente soms sukkel. Indien ’n student sy of haar jaar druip, word die lening tydelik vir een jaar agterweë gehou en moet die student die druipjaar op eie koste herhaal.

Indien die student slaag, word daar voortgegaan met die verlening van die reeds goedgekeurde lening.

 

Vraag: Waarom moet iemand wat ’n studielening by Helpmekaar het, sy of haar eksamenpunte aan Helpmekaar stuur?

Antwoord: Die eksamenpunte dien as bewys dat die student sy of haar jaar of semester geslaag het.

 

Vraag: Hoe gou nadat iemand sy of haar graad verwerf het, moet daar begin word om die lening terug te betaal?

Antwoord: Na voltooiing van studies word 3 maande grasie aan ’n student verleen om te begin met die afbetaling. Vir  ’n student wat na graadverwerwing prakties moet doen, bv vir ’n prokureur of ouditeur, word spesiale reëlings getref.

 

Vraag: Gestel ’n student wil ná sy of haar studies oorsee gaan – hoe beïnvloed dit sy of haar verpligtinge teenoor Helpmekaar?

Antwoord: Die student moet nog steeds voortgaan met die terugbetaling van die lening op die normale voorwaardes.

 

Vraag: Waarom moet iemand borg teken vir ’n student se studielening?

Antwoord: Die NHSF is baie afhanklik van die rente, asook die terugbetalings, wat ontvang word om sy beskikbare finansieringsbron so sterk moonlik te hou. Sodoende kan nuwe studente gehelp word om te studeer.

Daarby vereis die Kredietwet dat enige instansie wat geld uitleen dit met groot verantwoordelikheid moet doen, om sodoende die verbruiker van die fondse ook te help.

Die gebruik van borge help in ’n groot mate om sekuriteit te gee om in bogenoemde vereistes te voorsien.

 

Vraag: Hoe moet die meriete-beurse wat Helpmekaar gee, bestee word – net vir studiegeld, of kan dit ook vir iets anders gebruik word?

Antwoord: Die meriete-toekennings is ‘n beloning en aanmoediging vir die student en kan aangewend word tot voordeel van jou studies.

 

Vraag: Hoe word direksielede van Helpmekaar vir hul werk vergoed?

Antwoord: Die nie-uitvoerende direksielede ontvang geen vergoeding nie. Hulle voel dat hulle deur die gratis verskaffing van hulle tyd en kundigheid n bydrae lewer om meer fondse aan voornemende studente beskikbaar te stel.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie