Die Kuberruimte – wees versigtig, wees baie versigtig!

Deur prof Basie von Solms, direkteur :  Sentrum vir Kubersekerheid (www.cybersecurity.org.za); mede-direkteur:  Global Cybersecurity Capacity Centre, Universiteit van Oxford, Brittanje; voormalige president: IFIP en Akademie vir Rekenaarwetenskap en Programmatuur-ingenieurswese, Universiteit van Johannesburg en voormalige direksielid van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds.

Ons leef vandag in ʼn toenemend gekonnekteerde wêreld – ʼn wêreld waar die internet mense en goed al hoe meer aan mekaar koppel. Die VN se Internasionale Telekommunikasie-Unie se skatting was dat daar teen die einde van 2015 reeds 3.2 miljard mense – ongeveer die helfte van die wêreldbevolking – was wat toegang tot die Internet gehad het, en dit groei daagliks. Skattings is dat daar teen die einde van 2020 soveel as 20 miljard ‘goed’ aan die Internet gekoppel sal wees – van mikrogolfoonde tot straatligte.

Of ons nou daarvan bewus is of nie: die internet raak omtrent alle aspekte van ons lewe, elke dag. Uiteraard verskaf dit ongelooflike voordele en maak ons lewens soveel makliker en ryker – dink maar aan sosiale netwerke waarmee ons met mekaar kontak kan hou, die wêreldwye web waardeur ons toegang kan kry tot ’n ondenkbare hoeveelheid inligting en data geberg in databasisse versprei dwarsoor die wêreld, en baie meer.

Die internet is die basiese infrastruktuur wat al die ‘goed’- sosiale netwerkprofiele, databasisse, eposfasiliteite, ensovoorts – aan mekaar koppel. Ons kan na die algehele omgewing verwys as die kuberruimte.

Ongelukkig het hierdie positiewe kant ook ʼn negatiewe en donker kant – daar is groot en gevaarlike risiko’s inherent aan hierdie gekoppeldheid en gebruik. Dit is dus uiters belangrik dat almal wat te doen het met die internet, die wêreldwye web en die kuberruimte in die algemeen, bewus is van die risiko’s en hulself bemagtig en beveilig – die kubermisdadigers is uiters gesofistikeerd in die gebruik van die kuberruimte om misdaad te pleeg.

Kubermisdaad, dit wil sê misdaad wat deur en met behulp van die kuberruimte gepleeg word, word gereken as een van die grootste vorms van misdaad in die wêreld – in baie gevalle groter as onwettige dwelm- en wapenhandel.

Dis waarom almal wat die kuberruimte gebruik, ernstig moet aandag gee aan kubersekerheidsbewustheid en- bemagtiging.

Hierdie kubersekerheidsbewustheid en -bemagtiging geld elkeen wat die kuberruimte gebruik – en sluit in:

  • Voorskoolse kinders
  • Alle skoolleerders
  • Onderwysers
  • Ouers, Oumas en Oupas
  • Pensioenarisse
  • Alle werknemers – vanaf die eenman-onderneming tot groot korporatiewe maatskappye
  • Regeringsdepartemente
  • Maatskappydirekteure, ens.

Laat ons ʼn paar van die basiese riglyne noem:

  • Sorg dat jou toestel (slimfoon, tablet, rekenaar) ʼn goeie antivirusprogram het wat gereeld bygewerk word.
  • Sorg dat jy jou toestel se bedryfstelsel gereeld bywerk om geïdentifiseerde kwetsbaarhede te ondervang.
  • Moenie reageer op ongevraagde en onbekende eposse nie – vernietig hulle dadelik!
  • Moenie op enige onbekende internetskakel kliek nie – nooit nie!
  • Moenie enige toepassings op jou slimfoon of tablet aflaai nie, behalwe dié van ʼn amptelike en bekende toepassingsbergplek.
  • Moenie te veel inligting oor jou, jou kinders, of ander op jou sosiale netwerkwerk plaas nie.
  • Sorg dat jou sosiale netwerkprofiel so ‘geslote’ as moontlik is, dit wil sê, maak seker dat wat jy ook al plaas, net deur jou vriende gesien kan word, en nie deur jou vriende se vriende en ander nie.
  • Aanvaar dat jy ʼn digitale voetspoor los waar jy ook al in die kuberruimte rondloop – elke plek wat jy besoek, registreer jou elektroniese identiteit.
  • Wees bewus daarvan dat jy nooit anoniem in die kuberruimte is nie – duisende ander mense sien wat jy doen, aflaai en bekyk.
  • Aanvaar dat enige inligting (kommentaar, foto’s ensovoorts) onmiddellik wêreldwyd versprei word en dat jy dit NOOIT weer kan terugkry of vernietig nie.
  • Moenie iets in die kuberruimte plaas of sê wat jy nie met almal om jou sal wil deel nie.

As jy ʼn ouer is, sorg dat jy jou kind se aksies in die kuberruimte bestuur – dis hier waar gevolge soos kuberboelie, kuberagtervolging, porngrafiese blootstelling en dergelike probleme ontstaan.

As jy ʼn onderwyser is, sorg dat jou skool voorligting oor die sake verskaf aan leerders en ʼn beleid daaroor het.

As jy ʼn werkgewer van enige aard is, maak seker dat jy die een of ander vorm van kubersekerheidsbeleid het vir jou werknemers wat sake soos hierbo insluit en reël kubersekerheidsbewustheidskursusse en -aanbiedings oor die sake.

As jy in die direksie van ʼn maatskappy dien, maak seker dat jy op datum is oor dié sake, want dis deel van jou korporatiewe bestuursverantwoordelikheid – waar nalatigheid ernstige persoonlike gevolge kan hê!

Sover dit jou aktiwiteite in die kuberruimte betref, wees versigtig – wees baie versigtig!

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie