Frits Kok en Joan van der Westhuizen

Ons Personeel

Die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds se vaste kantoorpersoneel bestaan uit net twee mense – dr. Frits Kok, besturende direkteur, en mev. Joan van der Westhuizen, administratiewe beampte.

Hulle word bygestaan deur ʼn paar kundiges wat op kontrakgrondslag dienste lewer, byvoorbeeld rekenkundig en elektronies.

Ons geldsake word deur PriceWaterhouse Coopers geouditeur.

Dr. Kok en mev. Van der Westhuizen kan op weekdae soggens telefonies by 011 782 9160 bereik word.

Frits Kok, besturende direkteur van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, is in Pietersburg (Polokwane) gebore, maar het  sy skoolopleiding in Pretoria voltooi. Daarna het hy aan die PU vir CHO (nou NWU) studeer, asook aan die Potchefstroomse Onderwyskollege, Unisa en Stellenbosch.

Hy was by verskeie studentebedrywighede betrokke, o.m. as studenteraad-voorsitter en vise-president van die Afrikaanse Studentebond.

Hy begin as onderwyser en departementshoof, waarna hy ATKV-bestuurshoof word. In sy bykans 25 jaar by die ATKV was sy taakuitvoering kultuurbevordering en die winsgewende bestuur van verskeie ondernemings, soos 6 vakansieoorde, ʼn uitgewery (LAPA) en verwante ondernemings. Die inkomste uit hierdie ondernemings is gebruik om die kultuurkomponent te finansier.

Dr. Kok was betrokke by ʼn lang lys instansies as direkteur, raadslid, of trustee. Dit sluit in die SAUK-raad, die Stigting vir Skeppende kunste, Johannesburgse Stadskouburg, Gauteng  se Interim Kuns- en Kultuurraad, die Streekraad vir Kultuursake: Suid-Transvaal, Pendoring se reklametoekenningskomitee; die raad van die NWU, ATKV-skryfskool, Studietrust, Project Literacy, en die Gautengse Onderwys- en Opleidingsraad.

Hy het voorts in die beheerraad van die Voortrekkermonument gedien,  in die Strategiese  komitee van die Vryheidspark ( Freedom Park), die Democracy Education Broadcasting Initiative, Maatskappy vir Immigrasie en die hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Hy is sedert 2011 heeltyds by Helpmekaar betrokke en is die trotse pa van 4 kinders en oupa van 9 kleinkinders.

Mev. Joan van der Westhuizen, administratiewe beampte van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, is van 1999 af by ons. In hierdie tyd het sy soos ʼn tweede ma vir baie van ons leninghouers geword.

“My taak is om studente te help om hul doelwitte te bereik en te sorg dat hulle betyds geld in die sak het om  hul finansiële verpligtinge teenoor hul onderskeie instansies na te kom,” sê sy. Haar geduld en gewilligheid om te luister na – soos syself sê – “hul klagtetjies oor studie en eksamenstres”, kos moed inpraat, maar byna altyd help dit studente “dalk net ʼn bietjie” om weer met nuwe ywer aan die werk te spring.

“Dit is vir my baie bevredigend om ook met studente se ouers te skakel, en te sien hoe studente met wie ek reeds van die begin van hul studiejare af kontak het, uiteindelik volwaardige en belangrike poste beklee oor ʼn wye spektrum van die  beroepswêreld, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die buiteland.”

Sy het in Nigel aan die Oos-Rand grootgeword, later na Secunda verhuis en in 1985 ʼn volwaardige stedeling geword, waar sy en haar man, mnr. Sarel van der Westhuizen, steeds in Melville woon.