Johan de Wet:

 

(Voorsitter)

Johan de Wet

 

Johan de Wet is sedert 2000 voorsitter van die direksie van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds. Hy is ’n afgetrede joernalis. In sy loopbaan was hy redakteur van altesame drie koerante – Die Volksblad, Beeld en Rapport.

Hy was ook mederedakteur van City Press, Sondagkoerant wat op swart lesers gemik is. Sy joernalistieke loopbaan het in Pietersburg (nou Polokwane) begin, waar hy gebore is en aan die Hoërskool Pietersburg gematrikuleer het.

Willem Viviers:

(Ondervoorsitter)

willem

 

Willem Viviers, ondervoorsitter van die direksie, is ʼn prokureur verbonde aan die firma Klopper Jonker Ing van Alberton. Hy is ’n lid van Helpmekaar se direksie sedert November 2010. Hy is lid van Helpmekaar se dagbestuur, asook van die finansiële komitee.

Mnr. Viviers het einde 1970 aan die Hoërskool Alberton gematrikuleer, waar hy vier jaar lank vir die skool se eerstespan tennis gespeel het. Hy het die graad B.Proc aan die Potchefstroomse Universiteit (nou die Noordwes-Universiteit) verwerf.

Ulrich Joubert:

 

Ulrich Joubert, wat van 2004 af in die direksie is, is ’n oud-Kapenaar wie se loopbaan hom deur die staatsdiens, staatskorporasies en banksektor geneem het. Hy was die groepekonoom van Transnet van 1989 tot Maart 2006. Hy is tans ’n onafhanklike ekonoom; dien in die hoofbestuur van die AHI en is ’n gewese voorsitter van die Johannesburgse Afrikaanse Sakekamer en die ekonomiese advieskomitee van die AHI.

Hy lewer gereeld kommentaar aan die gedrukte media, radio en TV en is die enigste ekonoom wat Beeld se ekonoom van die jaar-kompetisie vier keer gewen het.

Annie Malan:

annie_malan

 

Annie Malan, ‘n aktrise wat ‘n suksesvolle entrepreneur geword het, is sedert 2001 ‘n direkteur van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds. In haar kinderjare het sy roem verwerf in rolle soos klein Nina in Fiela se Kind, Saartjie, Glaskasteel en Pot vol Winter. Onlangs kon sy gesien word as die desperate Annalien Steyn in die TV-drama Swartwater.

In die sakewêld het Annie haarself reeds op ‘n baie jong ouderdom onderskei. Skaars 19 jaar oud, was sy al ‘n direksielid van Ferreira-makelaars (later bekend as Unifer), ‘n landwye makelaarsfirma. In hierdie tyd is sy deur Ou Mutual met die Wolraad Woltemade-toekenning vereer. En op ouderdom 20 is sy aangewys as een van die maatskappy se Top Tien-makelaars landwyd.

Voordat sy 21 was, is sy danksy ‘n Hooggeregshof-bevel mondig verklaar.

In 2003 het sy Annie Malan Promotions tot stand gebring waarvan sy steeds die hoof uitvoerende direkteur is. Die maatskappy het 14 kantore landwyd en het 3 000 studente regdeur die land in diens wat regstreekse bemarking doen vir top-maatskappye, die meeste banke, selfoonmaatskappye en die motorbedryf.

Annie is ‘n gesogte motiveringspreker en tree dikwels as seremoniemeester op. Sy is behulpsaam by opleiding in bemarking vir maatskappye se amptenare van junior tot senior vlak. Daarby is Annie aktief betrokke by liefdadigheidsorganisasies soos die Abraham Kriel-kinderhuise.

Johan la Grange:

johan

 

Johan la Grange is lid van die Helpmekaar-direksie sedert 2010; gebore in Kaapstad maar het matriek in Klerksdorp afgelê. Daarna het hy die graad B.Com. (Rek.) en STR aan Tukkies (buitemuurs) behaal en in 1971 die GR SA-eksamen geslaag.

Hy praktiseer sedert 1972 as geregistreerde rekenmeester en ouditeur in Pretoria.

Jan Hofmeyr:

jan_hofmeyr

 

Jan Hofmeyr, direksielid van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds sedert 2009, het reeds tydens sy studentejare aan die UP as jeugleier na vore getree. Ná voltooiing van sy studies in 1959 het hy ’n beroep as leraar van die gemeente Meadowlands in Soweto van die NG Kerk in Afrika aanvaar. Ses crèches asook ’n kerksentrum is onder sy leiding in Meadowlands tot stand gebring.

Van 1967 tot 1992 het hy diens gedoen as sinodale jeugleraar van die NG Kerk in Afrika en was instrumenteel in die daarstelling en bedryf van ’n kerkkoshuis in Itsoseng, Lichtenburg asook ’n Kinderhuis in Emdeni, Soweto. Van 1979 tot 1992 het hy as saakgelastigde van die sinode diens gedoen.

In 1974 het hy die leiding geneem in die stigting van die nasionale studiebeursorganisasie Studietrust. Van 1992 tot 2008 was hy nasionale direkteur van hierdie organisasie, wat oor die jare duisende jongmense gehelp het om hul studies voor en ná matriek te kon voortsit.

Met sy uittrede as nasionale direkteur in 2008 het ’n getal van om en by 600 jongmense beurs- en leningshulp ten bedrae van R8,26 m deur middel van Studietrust ontvang. Ná sy aftrede het hy nog voortgegaan as trustee, boekhouer en studentementor. Hy was ook betrokke by National Student Financial Aid Scheme. Van 2012 af dien hy Studietrust verder as trustee.

Wilma de Bruin:

wilma

 

Wilma de Bruin, een van die land se voorste vryskutjoernaliste, is in April 2013 verkies tot die direksie van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds.

Me. De Bruin, wat aan die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein gematrikuleer het, het aan die UV gestudeer, waar sy ook deeltydse dosent in Latyn, en tegniese assistent in die regsfakulteit was.

In haar joernalistieke loopbaan wat oor meer as vyf dekades strek, was sy in die redaksies van Die Volksblad, Beeld, BY, Kalender (Beeld), Sake24 en Sake-Rapport. As artikelskrywer het sy gewerk vir Sarie, RooiRose, Finweek, Leadership, Executive en De Kat.

Daarby was sy redakteur van onder meer Jou Geldsake (Beeld), Media & Reklame (Sake24), Buurman (Joods-Afrikaanse kwartaalblad van die Joodse Raad van Afgevaardigdes), Restorica (die kultuurhistoriese bewaringstydskrif van die Stigting Simon van der Stel), A Celebration of 100 Years (gedenkuitgawe van Tukkies se fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en die bedryfstydskrif, Healthcare Review. Sy was ook redakteur van verskeie interne maatskappypublikasies.

Gedurende haar loopbaan het sy het nuusvrystellings/artikels geskryf vir onder meer Liberty Medical Scheme, Momentum, Tukkies se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Medihelp, Clover, The Star en Citizen Travel, en Unilever. Vir altesame 12 Suid-Afrikaanse rolprente was sy publisiteitsbeampte, byvoorbeeld vir Jamie Uys se The Gods Must be Crazy en Funny People.

Vir langer as twee dekades was sy, as mediaskakel en -skrywer, nou betrokke by die Pendoring-reklamekompetisies. Sy was ook skakelbeampte vir SAMRA (Southern African Marketing Research Association, terwyl sy ook The Boss of the Year-prys georganiseer het. Daarby was sy ‘n hele paar jaar beoordelaar van die AdMag-toekennings en die koerantafdeling van die ATKVeertjies.

Roelof Burger:

 


 

Roelof Burger is sedert Julie 2019 lid van die direksie van die NHSF.

Hy het in Nelspruit groot geword en sy skoolloopbaan in Laerskool Nelspruit en Hoërskool Nelspruit voltooi. Hy studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (tans Noord Wes Universiteit) van 1973 – 1976 en behaal ‘n B-Com graad en HOD(G) onderwysdiploma. In 1983 behaal hy ‘n Hons B-Com graad aan die PU vir CHO.

Roelof was van 1977 tot 2018 (42 jaar) in die onderwys. Hy beklee die posisie van onderwyser (6 jaar), departementshoof  (5 jaar), adjunkhoof (3 jaar), senior-adjunkhoof (2 jaar) en skoolhoof (26 jaar) poste gedurende die jare.

Hy het as Voorsitter in verskeie rade en kommissies gedien, oa. Suid Afrikaanse Onderwysers Unie, Geloftefees Kommissie, Kempton Hoofdekring, TuksSkole-Reeks: Uitvoerende Direkteur, “Directors Advice Board of Ekurhuleni North”, FEDSAS in Gauteng, “Governing Body Foundation Executive”, NG Kerk Kempton-Kruin.

Roelof het verskeie toekennings gedurende sy tyd in die onderwys ontvang.

Hy is met Petra getroud en die gesin het twee kinders.

Frits Kok:

 

Frits Kok, besturende direkteur van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, is in Pietersburg (Polokwane) gebore, maar het  sy skoolopleiding in Pretoria voltooi. Daarna het hy aan die PU vir CHO (nou NWU) studeer, asook aan die Potchefstroomse Onderwyskollege, Unisa en Stellenbosch.

Hy was by verskeie studentebedrywighede betrokke, o.m. as studenteraad-voorsitter en vise-president van die Afrikaanse Studentebond.

Hy begin as onderwyser en departementshoof, waarna hy ATKV-bestuurshoof word. In sy bykans 25 jaar by die ATKV was sy taakuitvoering kultuurbevordering en die winsgewende bestuur van verskeie ondernemings, soos 6 vakansieoorde, ʼn uitgewery (LAPA) en verwante ondernemings. Die inkomste uit hierdie ondernemings is gebruik om die kultuurkomponent te finansier.

Dr. Kok was betrokke by ʼn lang lys instansies as direkteur, raadslid, of trustee. Dit sluit in die SAUK-raad, die Stigting vir Skeppende kunste, Johannesburgse Stadskouburg, Gauteng  se Interim Kuns- en Kultuurraad, die Streekraad vir Kultuursake: Suid-Transvaal, Pendoring se reklametoekenningskomitee; die raad van die NWU, ATKV-skryfskool, Studietrust, Project Literacy, en die Gautengse Onderwys- en Opleidingsraad.

Hy het voorts in die beheerraad van die Voortrekkermonument gedien,  in die Strategiese  komitee van die Vryheidspark ( Freedom Park), die Democracy Education Broadcasting Initiative, Maatskappy vir Immigrasie en die hoofbestuur van die Afrikaanse Handelsinstituut.

Hy is sedert 2011 heeltyds by Helpmekaar betrokke en is die trotse pa van 4 kinders en oupa van 9 kleinkinders.

Magda Swart:

 

Magda Swart het in die vorige eeu BA (kommunikasiekunde) aan die destydse PU vir CHO gestudeer en het in 1979 by Beeld ingeval as algemene verslaggewer in die nuuskantoor.

Later het sy gespesialiseer in beriggewing oor staatsdiens- en onderwyssake voordat sy rondom 1996 een van die eerste vroue was wat ’n hoofredaksielid van Beeld geword het. Sy was ook by Rapport, waar sy adjunkredakteur was, voordat sy beheer oorgeneem het van die nasionale produksiespan. Met die koms van Netwerk24 het die produksie en taalversorging van dié aanlyn publikasie ook haar span se verantwoordelikheid geword.

Sy het in haar tyd as verslaggewer in sowel Johannesburg as Pretoria gewoon en gewerk.

Nadat sy in ’n stadium weg is by Naspers om by die departement van landbou in Pretoria te gaan werk, is sy gevra om terug te kom en was toe deel van die eerste redaksie van Finansies en Tegniek.

Sy was ook betrokke by die ontwerp en ontwikkeling van verskeie ander produkte waarvan Beeld se kuns- en vermaaklikheidsbylae, Plus, en Rapport se tydskrif MyTyd vir haar uitstaan.

Magda het op ’n plaas in Heilbron in die Vrystaat grootgeword en matriek geskryf aan die Hoërskool Willem Pretorius. Sy woon nou in Linden, Johannesburg, maar die verbintenis met die Vrystaat is steeds baie sterk.

Haar enigste seun, Mathinus, het voor haar betrokkenheid by die NHSFonds, met die hulp van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds gestudeer.

Christo Luüs:

 

Christo Luüs matrikuleer aan Carletonville Hoërskool en studeer aan die RAU (nou UJ) waar hy sy B.Com (Hons) in ekonometrie verwerf. Na sy weermagopleiding, begin hy by die United Bouvereniging werk wat later ABSA bank word. In 1992, behaal hy die MBL-graad aan Unisa.

Tussen 1998 en 2007, is hy hoofekonoom van die Absa Groep en dien onder andere op die Absa Groep  Bedryfsraad en die Groep Strategie-raad. Die bank se ekonomiese navorsingsdepartement publiseer ‘n aantal gereelde publikasies. Hy was ook verantwoordelik vir die ontwikkeling van onder andere ‘n omvattende huisprys-databasis, ‘n kwartaal-gebaseerde sikliese makro-ekonometriese vooruitskattingsmodel , sowel as ‘n langtermyn strukturele model vir Suid-Afrika. Hy doen heelwat aanbiedings ter plaatse en in die buiteland, onder andere by banke in Londen, Frankfurt, Brussel en New York.

Christo dien as voorsitter van die Johannesburgse Sakekamer en verteenwoordig sy werkgewer by SACOB, BUSA, BLSA en die AHI. Hy word deur die Minister van Finansies aangestel op die Raad van Statistiek SA (dien later as voorsitter) wat toesig hou oor die insameling en verwerking van ekonomiese statistiek . Hy dien op die Sentrale Raad van die Ekonomiese Vereniging. Hy was ook mede-outeur van verskeie boeke rakende die finansiële marke en instrumente in SA, sowel as persoonlike finansies. Hy verwerf die kwalifikasie FIFM van die SAIFM (Fellow of the Institute of Financial Markets).

Hy verlaat Absa se diens in 2007 en begin sy eie konsultasiebesigheid, Ecoquant. Hy is sedert 2012 voorsitter van die raad van SAIFM wat verantwoordelik is vir die eksaminering en kwalifisering van handelaars en ander rolspelers in die finansiële markte. Hy dien ook op die direksie en die risiko- komitee van die Flower Foundation, ‘n maatskappy wat aftree-oorde bedryf.

Hy word in 2021 lid van die direksie van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds.

Prof. Bobby Tait:

 

Prof. Bobby Tait, verbonde aan Unisa se Skool vir die Rekenaarwese, is ’n deskundige op die gebied van kubersekerheid. Hy het reeds talle navorsingstukke gepubliseer en word dikwels genooi om op te tree op internasionale konferensies hier, oorsee en in Suid-Afrika se buurstate.

Prof. Tait het aan die Wes-Rand grootgeword en aan die RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) studeer, waar hy uiteindelik ook doseer het voordat hy hom by Unisa aangesluit het. Hy is sedert 2019 lid van die Helpmekaar-direksie.

Sy wye navorsing is gerig op informatika-sekuriteit ten opsigte van biometriese tegnologie, wat pleks van gewone wagwoorde, aangewend kan word om toegang tot rekenaars te verkry.

Hy spesialiseer gevolglik op die ontwerp van beter  – en alternatiewe –  metodes en tegnologie vir die gebruik van vingerafdrukke, iris-, retina- en stemherkenning. Die doel is uiteraard om rekenaargebruikers te beskerm teen kuberkraak-aanvalle of roofsagteware.

 

Jannie Rossouw:

 

Jannie Rossouw is in Stellenbosch gebore en het aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer. Hy het die M.Com (Ekon) en MBA grade aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het ‘n PhD-graad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf. Hy is sedert 1 Januarie 2022 ‘n besoekende professor by Wits Bestuurskool (WBS) na ‘n dienstydperk as WBS se Tussentydse Hoof. Tot 2012 was hy ‘n Adjunkhoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en het daarna onder meer as Hoof van die Skool vir Ekonomiese en Sakewetenskappe by die Universiteit van die Witwatersrand gedien.

Jannie het wye ondervinding van korporatiewe bestuur en beheer. Hy is Ondervoorsitter van die Oudit- en Risikobestuurskomitee van die SA Akademie van Wetenskap en is ook ‘n lid van die Direksie. Hy is lid van die Oudit- en Risikokomitee van die Afrikaanse Taalmuseum en –monument in die Paarl. Hy dien ook op die Raad van Trustees van die Unisarf pensioenfonds en van die SA Reserwebank pensioenfonds. Hy dien op die Direksie van Satsanga Fintech Bpk en is Voorsitter van die Oudit- en Risikokomitee.

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 2019 die Stalsprys vir ekonomie aan Jannie toegeken.

 

Fika J van Rensburg:

 

Fika J van Rensburg is op 12 September 1951 op Frankfort (Vrystaat) gebore as oudste van Stoffel en Dulcie. Hy het op die plaas Voorbeeld groot geword – tussen Standerton en Greylingstad, naby Cedarmont. Hy is getroud met Sunette (Nel) en hulle het drie stelle kinders, en vier kleinkinders. Hy Voorsitter van die Studenteraad van PUK (1973-1974). En vanaf 1987 was hy vir tien jaar huisvader van Karlien Dameskoshuis. Sy spesialiteitsrigting is Verklaarkunde van die Nuwe Testament, waarin hy ‘n doktorsgraad het, en Grieks, waarin hy ‘n meestersgraad het. Hy was navorsings-genoot aan die Yale Universiteit in die VSA, die Humboldt Universiteit in Berlyn, en die Radboud Universiteit in Nijmegen, Nederland. Hy was redakteur en medewerker van sewe omvattende hulpmiddels by die verstaan van die Bybel, waaronder Die Bybel in Praktyk (1993), Die Bybellennium Eenvolume-kommentaar (1999 en 2009), Die Multivertaling Bybel (2004), Die Nuwe Lewende Vertaling (2006), en die Interliniêre Grieks-Afrikaanse Nuwe Testament (2012). Hy het aan verskeie Bybelvertaling-projekte deelgeneem. Die Andrew Murray-prys is vir twee van sy publikasies toegeken, en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het aan hom ʼn medalje toegeken vir Bybelvertaling en Teologie-handboeke. Hy was dosent in Grieks (1973-1980), predikant van die Gereformeerde Kerk Frankfort (1981-1983), en professor in Grieks en Nuwe Testament aan die PUK en latere NWU (1983-2016). Hy was Dekaan van die Fakulteit Teologie, Viserektor Navorsing & Beplanning, en Kampusrektor. Hy het aan die einde van 2018 uitgetree as Adjunk-visekanselier van die Potch-Kampus asook die Adjunkhoof van die NWU. Hy was voorsitter van die Aardklop-Direksie (2017-2020), stigter en Hoof Uitvoerende Beampte van die Cachet Park City Improvement District, ‘n maatskappy wat bepaalde munisipale en sekuriteitsdienste in die groter Bult-omgewing rondom die PUK-Kampus lewer (2019-2020). Hy beskou dit as sy taak en roeping om die Bybel geldig te verklaar en vir ons tyd toe te pas, om hierdie Skrifbeginsels uit te leef en ander daartoe te motiveer en toe te rus. Sedert 2021 het hy en sy vrou hulle in Linden gevestig, waar hy o.a. as prediker hulpdiens lewer by die Gereformeerde Kerk Randburg. Sy lewensleuse is: Slaaf van Christus, tot jou diens.