wilma

Me. De Bruin, wat aan die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein gematrikuleer het, was in 1967 ’n American Field Service-uitruilstudent in Detroit in die VSA. Sy het by die Kovsies gegradueer, waar sy ook deeltydse dosent in Latyn, en tegniese assistent in die regsfakulteit was.        In haar joernalistieke loopbaan wat oor meer as 4 dekades strek, was sy in die redaksies van Die Volksblad, Beeld, BY, Kalender (Beeld), Sake24 en Sake-Rapport. As artikelskrywer het sy gewerk vir Sarie, RooiRose, Finweek, Leadership, Executive en De Kat.      Daarby was sy redakteur van onder meer Jou Geldsake (Beeld), Media & Reklame (Sake24), Buurman (Joods-Afrikaanse kwartaalblad van die Joodse Raad van Afgevaardigdes), Restorica (die kultuurhistoriese bewaringstydskrif van die Stigting Simon van der Stel), A Celebration of 100 Years (van Tukkies se fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en Healthcare Review (Media24 se kliëntetydskrif).

Sy het bydraes gelewer vir onder andere Liberty Medical Scheme, Momentum, Tukkies se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, The Star Travel en Unilever. Vir altesame 12 Suid-Afrikaanse rolprente was sy publisiteitsbeampte, byvoorbeeld vir Jamie Uys se The Gods Must be Crazy en Funny People.       Veertien jaar lank het sy Die Pendoring-reklamekompetisies gereël. Die toekenning van Southern African Marketing Research Association was haar verantwoordelikheid, terwyl sy ook The Boss of the Year-prys georganiseer het. Daarby was sy van 2005 tot 2009 ’n beoordelaar vir AdMag. Sy beoordeel sedert 2008 die koerant-afdeling van die ATKVeertjies.