ian

Ek kom van Komatipoort, waar ek in 2014 aan die Komatipoort-Akademie matriek afgelê het. Nou is ek tweede jaar B.Agric. aan die Universiteit van die Vrystaat.

Ek geniet die universiteitslewe onsettend baie en probeer soveel as moontlik geleenthede gryp wat oor my pad kom. Ek speel muurbal en rugby vir Veritas (daghuis) se eerste spanne.

Aan die einde van my matriekjaar het my punte nou nie juis belowend gelyk nie, maar teen einde 2015 behaal ek onderskeidings in al vyf my modules. Dit is omdat ek regdeur die jaar meer as 75% in die modules gekry het. Die onderskeidings is beloon met ‘n meriete beurs van R7 000 wat van my studiegeld afgetrek word.

Ja, om van die sogenaamde onderberg af Vrystaat toe te skuif, was ‘n koue stap, maar ek kan met ‘n warm hart dankie sê aan die Noordelike Helpmekaar-Studieleningsfonds wat dit vir my moontlik gemaak het om te kan wees waar ek nou is.

Dit is ‘n besondere voorreg om Helpmekaar se meriete beurs te kry – iets waarvoor ek opreg dankbaar is. Dit inspireer my om aan te hou hard werk. ‘n Groot dankie ook aan my ouers en die Here.