Magda Swart
Jong mense wat vandag die beroepswêreld betree, staan voor die werklikheid van ’n baie stukkende wêreld op alle vlakke – en veral hier in Suid-Afrika lyk en voel dit of alles meer stukkend is as elders ter wêreld.
Dis sigbaar waar jy ook al kyk: Die slaggate in die paaie, die krisis oor waterverskaffing, plaaslike regerings wat nie meer dienste kan lewer nie weens onbetaalbare skuld-agterstande en die infrastruktuur in selfs groot stede wat teen ’n asembenemende pas ingee. Om nie te praat van die impak wat die jongste arbeidswetgewing oor billike indiensneming het op jou pad vorentoe nie.
Maar dis nie ’n tyd om weg te deins nie. Dis veel eerder ’n tyd om die stukkendheid om jou vierkant in die oë te kyk en jou roeping ongeskrik aan te pak.
Dít was die boodskap van prof. Fika Janse van Rensburg, voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, by ’n geleentheid waar ’n handjievol studente vir hul uitsonderlike prestasie vereer is deur die direksie van die Noordelike Helpmekaar-studiefonds (NHS), ’n niewinsgewende organisasie waarvan hy ’n direkteur is. Hulle help jong mense met lenings om te gaan studeer en help tans 155 studente om aan verskeie instellings te studeer met lenings teen ’n baie gunstige rentekoers.
Prof Fika Janse van Rensburg
By die prestige-geleentheid in Roodepoort het Janse van Rensburg die uitblinkers aangemoedig om “ongeskrik te leef en te weet die jaar 2025, met al sy stukkendheid, is baie ver die donkerste diepte-punt waar Suid-Afrika al was – al praat mense dikwels asof ons daar is”.
Kry perspektief
Hy het verwys na 1902 en hoe mense toe moes gevoel het ná die Anglo-Boereoorlog. Die totale infrastruktuur en ekonomie van die land is verwoes deur die Britse beleid van verskroeide aarde en duisende mense is dood in die oorlog en in konsentrasiekampe.
Of die verskriklikheid van die Rebellie van 1914, met toestande soortgelyk aan ’n burgeroorlog en diep politieke verdeeldheid!
Of 1929-’33 tydens die Groot Depressie, wat in ons land gepaardgegaan het met die grootste droogte tot in daardie stadium.
Of 1939-’45 met die Ossewabrandwag en die interneringskampe.
Of die grensoorloë van die 1970’s en 1980’s, die binnelandse onrus en noodtoestande van die laat 1980’s.
As ’n mens dus net so ’n bietjie meer as 100 jaar terugkyk op die geskiedenis van Suid-Afrika, is dit duidelik om te sien dat die plek op die grafiek vanwaar jy jou roeping nou moet vervul om die land ’n beter plek te maak, relatief gesproke vir seker nader is aan die toppunt as aan ’n dieptepunt van die geskiedenis, sê hy.
“En die feit dat ons voorgangers uit daardie diepste dieptes tog hoë hoogtes kon bereik, moet jou die moed gee om jóú stukkie Suid-Afrika ’n minder stukkende plek te maak.
“Dié ongeskriktheid wat vandag nodig is in Suid-Afrika, word ’n werklikheid as jy ook bewustelik uit ’n geloofsoogpunt na jouself en na die stukkendheid kyk.
Dit sal jou laat wéét en beleef dat jy gerat is vir ’n beroepsvervulling wat jou in staat sal stel om ongestoord en ongeskrik die stukkendheid om jou te hanteer.
“Deur die situasie in perspektief te plaas, kry jy ’n nuwe perspektief. Jy sien wat verkeerd is, maar jy laat jou nie afskrik nie. Jy sien wat jy dalk nie kan verander nie, maar jy kan besluit om jou roeping in jou invloedsfeer op jou manier uit te leef. En só sal jou kring van invloed al hoe groter kan word.”
Hy het verwys na ink wat op ’n stuk kladpapier val en (nadat hy aan die jong mense verduidelik het wat kladpapier is) gesê hy sien in sy geestesoog ’n kaart van Suid-Afrika en hoe die inkkolle daarop val en uit- en inmekaarvloei soos vandag se jong mense die land omkeer deur die ongeskrikte vervulling van hul roeping en die vryheid om gewoon met integriteit hul ding te doen.
“Dis dié ongeskriktheid wat vandag noodsaaklik is in Suid-Afrika. Dit word ’n werklikheid as jy ook bewustelik uit ’n geloofsoogpunt na die stukkendheid om jou kyk.
Dán sal jy wéét dat jy gerat is om ongestoord die stukkendheid om jou te hanteer – ongeskrik!”
Húlle is vereer
Die ses studente wat in Roodepoort vereer is vir hul uitsonderlike akademiese prestasie, is:
- AJ de Beer, wat sy BCom-rekeningkunde-graad met lof verwerf het aan die Universiteit van Johannesburg en tans besig is met sy honneurs in dieselfde rigting;
- Carla Bouwer, wat besig is met haar honneurs in BCom bedryfsielkunde aan die Universiteit van Pretoria nadat sy haar BCom-graad in bedryfsielkunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus verwerf het;
- Edwin Kruger, wat pas sy meestersgraad in biomediese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het. Sy tesis het gefokus op die gebruik van elektroniese neuse om respiratoriese siektes soos tuberkulose te diagnoseer. Voor dit het hy ’n graad in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria verwerf;
- Zaneli Langenhoven, wat ’n BCom in menslikehulpbronbestuur asook ’n honneurs in dié rigting met onderskeiding geslaag het aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus;
- Marli Lemmer, wat besig is met BCom-honneurs aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus nadat sy haar BCom-graad in kommunikasiebestuur met onderskeiding geslaag het; en
- Riani van der Hoven, wat pas haar studie aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie voltooi het en nou werk as ’n mediese ortotis en prostetikus.
- Hierdie artikel word met die vergunning van Netwerk24 geplaas.
Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie