LUC REIK NA DIE STERRE

Doelgerig om eendag sy eie nywerheidsontwerpmaatskappy op die been te bring, het Luc Salzwedel sy studies ’n  paar jaar gelede aan die Universiteit van Johannesburg aangepak. Nie net het hy sy graad in Industriële Ontwerp met lof geslaag nie, maar vorder hy nou fluks met sy honneursgraad. Sy studies, glo hy, sal hom in staat stel om vorentoe ’n daadwerklike bydrae tot die oplossing van sommige van SA se knellendste sosio-ekonomiese probleme te maak. “My graad bied my die kennis om verskeie ontwerp-oplossings te skep vir hierdie probleme, soos byvoorbeeld die ontwerp van modulêre laekoste-behuising, verskeie wind- of sonkrag aangedrewe toestelle of watersuiweringstoestelle.” Lees hieronder meer oor dié begaafde NHSF-leninghouer.

 

Luc Salzwedel

V: Wei kortliks uit oor jou studies en loopbaanplanne, met spesifieke verwysing na  hoogtepunte/mylpale.

A: In 2023 het ek my graad in Industriële Ontwerp met onderskeiding aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Ek is tans besig met my honneurs in dieselfde veld. Verder het ek ook reeds ’n pos gekry as industriële ontwerper by ’n plastiekverpakkingsmaatskappy waar ek verantwoordelik is vir die ontwerp van verskeie plastiekverpakkingsprodukte.

V: Wat het jou op jou studierigting laat besluit en het dit aan jou verwagtinge voldoen…of moes jy dalk, by nabetragting,  ’n ander koers ingeslaan het?

A: As kind was ek altyd nuuskierig oor hoe verskillende goed werk, en hoe dit ontwerp en aanmekaargesit is, het my baie geïnteresseer. My gunstellingvakke op skool was Tegnologie, Ingenieursgrafika en Ontwerp, asook Visuele Kuns. Industriële ontwerp is basies ’n samevoeging van al die vakke en was dus ’n logiese studierigting om te volg. Dit het beslis aan my verwagtinge voldoen en het my toegelaat om my kreatiwiteit op verskeie maniere uit te oefen, maar ook om die praktiese aspekte van ontwerp beter te leer ken.

V: In watter mate het NHSF se studielenings jou met jou studies gehelp én aangemoedig om met lof te slaag?

A: Sonder die NHSF sou ek nie finansieel in staat gewees het om tersiêre onderrig te ontvang nie. Die Fonds se belangstelling in my vordering en die merietetoekennings vir goeie prestasie het beslis ook gedien as ekstra aanmoediging. Daarom is dit danksy die NHSF dat ek nou nie net ’n graad in Industriële Ontwerp het nie, maar ook ’n honneursjaar kan doen.

V: In die lig van jou tersiêre studies, wat se advies het jy vir voornemende studente?

A: Sorg dat jy uitstekende tydbestuur ontwikkel. As jy ’n skedule kan skep en daarby hou, sal jy sien dat dit moontlik is om te presteer in jou graadkursus en steeds tyd te hê om te kuier, die “studentelewe” te ervaar en selfs ’n deeltydse werk te kan hê.

V: Na jou mening, watter rol gaan AI (KI) vorentoe in nywerheidsontwerp speel? Voor- en  nadele?

A: Die Universiteit van Johannesburg is ’n groot ondersteuner van die Vierde Industriële Revolusie, wat natuurlik AI insluit. Daarom is ons al sedert eerstejaarsvlak blootgestel aan AI en geleer hoe om dit as ’n hulpbron te gebruik tydens die ontwerpproses. Voordele sluit in dat dit ’n groot bate is tydens die konseptualiseringsfase van ’n projek. Dit kan ’n ontwerper help om vinnig ’n groot verskeidenheid rigtings te identifiseer waarin die ontwerpproses kan gaan, maar ongelukkig is AI-programme in hul huidige fase net so slim soos die inligting wat tot hulle beskikking is. Daarom sal dit nie noodwendig altyd realistiese oplossings genereer nie. Dus glo ek nie dat AI ooit ’n industriële ontwerper sal kan vervang nie, maar eerder deel sal word van industriële ontwerpers se hulpbronne.

V: Wat is jou ‘droomberoep’?

A: Beslis om eendag my eie industriële ontwerpmaatskappy te begin.

V: Wat inspireer/motiveer jou persoonlik?

A: Sonder om materialisties te klink, is my motivering – soos baie ander lede van my generasie – finansiële sekuriteit. Lewenskoste word al hoe duurder en daarom het elke nuwe generasie in ’n suksesvolle gesin die verantwoordelikheid om hul bes te probeer om so suksesvol moontlik te wees sodat hulle ’n gemakliker lewe vir hulle kinders kan bied as wat hulle self gehad het. Ek het geensins swaargekry as kind nie, maar juis daarom moet ek ten minste hard genoeg werk sodat my kinders nie hoef swaar te kry nie.

V: As jy van aangesig tot aangesig met ’n inspirerende mens – op watter gebied ook al – kon gesels, wie sou dit wees en wat sou jy met hom/haar wou bespreek?

A: Jeremy Clarkson: Hy het sy loopbaan begin as motorjoernalis en het daarna ’n televisie- joernalis geword en toe het hy mede-aanbieder van Top Gear geword.  Daarna was hy mede-aanbieder van The Grand Tour, en nou het hy sy eie program, Clarkson’s Farm. Tydens sy loopbaan het hy ook verskeie boeke geskryf. Ek sal graag net met hom wil gesels oor sy loopbaan as geheel.

V: Vertel meer van jou lewensfilosofie, jou voor- en afkeure en jou goeie en slegte eienskappe?

Ek glo daarin dat ’n persoon ’n refleksie is van die mense wat jou grootgemaak het. Daarom is dit vir my belangrik om in my professionele asook persoonlike lewe altyd die beste voet voor te sit. Behandel almal met respek, lojaliteit en nederigheid, en help waar jy kan.

V: As jy ’n daadwerklike bydrae kon lewer om van Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme op te los, op watter gebied sal dit wees, en hoe sou jy dit aanpak?

A: Van Suid-Afrika se grootste sosio-ekonomiese probleme is die gebrek aan basiese hulpbronne soos water, elektrisiteit en behuising. My graad bied my die kennis om verskeie ontwerp-oplossings te skep vir hierdie probleme, soos byvoorbeeld die ontwerp van modulêre laekoste-behuising, verskeie wind- of sonkrag aangedrewe toestelle, of watersuiweringstoestelle.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie