Ek het my akademiese reis in 2021 aan die NWU se Potchefstroom kampus begin waar ek my B Com-graad in Menslike Hulpbronbestuur aangepak het.
Met deursettingsvermoë, harde werk en ‘n onwrikbare strewe na uitnemendheid het ek elke jaar my sudies met onderskeiding geslaag, ook my Honeursgraad in 2024.
‘n Hoogtepunt op my pad was om in 2023 as die beste derdejaarstudent aangewys te word.
Ek is ook oneindig dankbaar vir die NHS, wat ‘n groot rol in my akademiese reis gespeel het deur finansiële ondersteuning te bied. Sonder die Fonds sou ek nie my universiteitsloopbaan suksesvol kon voltooi nie.
Ek was, benewens akademie, ook aktief betrokke by Heide Dameskoshuis waar ek met trots deelgeneem het aan verskeie sportsoorte en kulturele aktiwiteite.
Vandag, op die jong ouderdom van 23, is ek bevoorreg om die pos as Menslike Hulpbronbestuurder by Vodacom in Bloemfontein te beklee. My beroep bied daagliks uitdagings en vereis dat ek vinnig doeltreffende besluite moet neem en ek geniet elke oomblik daarvan. Dit is ‘n voorreg om in hierdie posisie te wees en ek is dankbaar vir diegene wat my op hierdie reis ondersteun – veral my ouers, broers en kêrel Gerhard Maartens.
Ek kyk met trots terug op my pad en sien met opgewondenheid uit na die toekoms.