In 2022 het ek my akademiese reis aan die Universiteit van Pretoria begin, waar ek tans my graad in onderwys met spesialisering in die Senior Fase en Verdere Onderwys en Opleiding (FET) voltooi. Ek is tans in my finale jaar en is besig met my praktiese onderwysjaar. Hierdie praktiese opleiding behels twee afsonderlike skole, elk oor ’n tydperk van sewe weke. Hierdie waardevolle blootstelling aan verskillende skoolomgewings het my nie net opvoedkundig laat groei nie, maar ook my passie vir individuele leerprosesse verdiep.
My beroepspad is gewortel in ’n opregte liefde vir kinders en hul ontwikkeling. Ek glo vas dat elke kind uniek is, met hul eie leerstyle, emosionele behoeftes en tempo van ontwikkeling.
Ek streef daarna om ’n opvoeder te wees wat nie net akademiese inhoud oordra nie, maar wat ook empaties en doelgerig kinders ondersteun op hul pad van groei. Ek beplan om in 2026 verder te studeer aan ’n honneursprogram in Opvoedkundige Sielkunde, met die visie om my kennis en vaardighede te verdiep in leerondersteuning, gedragsontwikkeling en leerhindernisse.
Ek stel egter ook sterk belang in Bedryfsielkunde, aangesien ek gefassineer is deur menslike gedrag binne professionele en organisatoriese kontekste. Ek oorweeg dit om my loopbaanrigting later uit te brei na hierdie veld om my begrip van menslike potensiaal in verskeie omgewings te verbreed.
Ek is dankbaar vir die ondersteuning van die Noordelike Helpmekaar Studieleningsfonds, wie se bydrae dit moontlik gemaak het vir my om my drome na te jaag en nuwe drome te ontdek. Hulle ondersteuning het ’n diepgaande impak op my lewe, en ek is vasbeslote om in die toekoms terug te gee aan ander op soortgelyke wyse.