Ek het my onderwysgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. In 2025 het ek my loopbaan as onderwyseres begin aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, waar ek Afrikaans vir graad 8 en -11 aangebied het.

Van die tweede kwartaal af het ek by Hoër Volkskool Heidelberg aangesluit, waar ek ‘n permanente onderwyspos beklee. Ek is ook die graad 8 Afrikaans-koördineerder.

Ek het ’n passie vir kinders en vir die skoolomgewing, en my doel as opvoeder is om elke leerder te help om sy/ haar volle potensiaal te bereik. Ek is opreg dankbaar vir die NHS wat my tydens my studiejare ondersteun het, en beskou hierdie merietetoekenning as ’n besondere eer en erkenning van my akademiese prestasies.

Hoewel ek tans nie verder studeer nie, oorweeg ek dit sterk om in die toekoms my honneursgraad te voltooi.

Buiten my onderrigverpligtinge is ek aktief betrokke by die skool se kultuur- en sportprogram, en dien ek as afrigter van ‘n netbal- en debatspan. In my vrye tyd draf ek graag en neem deel aan verskeie wedlope, wat my help om aktief en geestelik gebalanseerd te bly.