Ek is tans in die eerste jaar van my “MHSc Chiropractic” graad aan die Universiteit van Johannesburg. Om vir ‘n Chiro-praktisyn te studeer, voltooi jy eers ’n “BHSc Chiropractic” graad wat 4 jaar lank is. Dit is nie ’n uitree-vlak graad nie, want daarna gaan ons aan met ons “MHSc Chiropractic” kwalifikasie vir twee jaar. In ons MHSc begin ons met ons proefskrif sowel as ’n 2 jaar internskap by die publieke “UJ Chiropractic Clinic”.
Ek het baie respek vir die graad waarvoor ek studeer. Al voel dit soos ’n ewigheid, gaan daar nie ’n oomblik verby waarin ek nie verryk word met kennis van die menslike welstand, anatomie, bewysgebaseerde-praktyk en kreatiewe- sowel as uitdagende denke nie. Ek voel dat wat ons beroep onderskei van ander gesondheidsorgberoepe in ons veld, is dat ons fokus op die “hoekom” agter ’n probleem.
Ons kyk nie net na die plek waar die probleem voorkom nie, maar gaan eerder na die oorsaak, behandel die hele ketting en poog om verdere voorkoms van die probleem te voorkom.
Ek dien as die voorsitter van die “Student Chiropractic Association of Gauteng” vir 2024/2025. Hierdie posisie bied vir my verreikende geleenthede om ‘n opwindende studentelewe vir ander te skep, asook om ‘n variasie van gemeenskaps- en welsynsuitreike te reël.
Ek is opreg dankbaar vir die ondersteuning van die NHS – dit help my nie net om my studies te voltooi nie, maar gee my ook die kans om ’n verskil te maak onder my medestudente. As ‘n kind uit ’n enkel-ouer huishouding weet ek wat dit beteken om hard te werk, en dié bydrae verlig ’n groot las. Ek aanvaar die merietetoekenning met opregte waardering.