Ek is tans 21 en ‘n trotse inwoner van Patria Manskoshuis, besig met my finale jaar in Elektromeganiese Ingenieurswese aan die NWU.  Die koshuislewe is pret en om student te wees is lekker.  Ek het veral die Varsity Cup rugby geniet.

Die afgelope drie en n half jaar was hoegenaamd nie net pret gewees nie.  Die aanvanklike aanpassing om uit die huis te wees, op my eie voete te moet staan en die ongelooflike pas en volume van die akademie het my vinnig tot op die punt gebring waar ek wou opskop.

Die druk was net te veel. Al waaraan ek kon dink was hoe op aarde ek die eksamen sou kon deurkom en dit het tot ongelooflik baie spanning gelei.

Dit is toe hier waar God ingegryp het. n Oom in die kerk het my die eenvoudige advies gegee om die uitkoms in God se hande te los. En dit is toe presies wat ek gedoen het. Ek het die Here daagliks vir wysheid begin vra sodat ek net elke dag my deel kon doen en toe die uitkoms (eksamenuitslae) aan Hom gegee. En wat n verligting was dit nie! Sou ek dop, dan weet ek Ingenieurswese is nie vir my nie want ek het gedoen wat God van my verwag (dissipline en harde werk – en God het my selfs daarmee gehelp) terwyl die uitkoms in Sy hande is. In ‘n oomblik (ek is ernstig) het al die spanning verdwyn en kon ek met rustigheid en bonatuurlike vrede my studies dag vir dag aanpak.  Nodeloos om te sê, ek het toe nie gedop nie en hier staan ek drie jaar later besig met my finale jaar met dieselfde bonatuurlike rustigheid en vrede wat my lewe en studies oorheers. En dit alles is te danke aan God.

Graag  bedank ek NHS hartlik vir hul finansiële ondersteuning wat my studies tot op hede moontlik gemaak het. Dit is n voorreg om te kan studeer en sonder instansies soos hierdie sal dit vir menigte jong mense nie moontlik wees nie.