Ek is 29 jaar oud en is tans besig met my 4de- en laaste jaar van ‘n onderwysgraad by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Ek gee huidig Graad 8 en – 9 Tegnologie en Graad 11 tot -12 Ingeneursgrafieka en Ontwerp (IGO). Ek het in 2024 die hele groep Matrieks gehad vir IGO en het ‘n 100% slaagsyfer behaal. Dit was die eerste keer in 12 jaar dat dit behaal is. Ek is ook die vakhoof vir IGO by die skool en moderator vir ons distrik.
Ek het my passie vir onderwys ontdek deur gebed, heel eerste, en deur my vrou se invloed. Ek werk tans by Hoërskool Roodepoort wat ook my Alma mater is. Hier het ek groot geword en ook my vrou ontmoet. Ek het ‘n liefde vir teken en droom om eendag my eie huis te ontwerp. Ek het later in my lewe begin studeer omdat dit finansieel nie moontlik was direk na skool nie. Ek sal die tweede persoon in my familie wees om ‘n graad te verwerf.
Ek het gehoor van die Noodelike Helpmekaar Studiefonds (NHS) deur my vrou wat ook die geleentheid gehad het om ‘n kwalifikasie in Filmproduksie te verwerf met die hulp van die NHS. Ek is elke dag dankbaar dat ek die geleentheid het om te studeer en onderwys te gee. Die NHS- lening gee my rustigheid oor my studies en my toekoms.