Vroeg in 2024 het ek my paadjie na sukses begin. As ‘n MBChB eerstejaarstudent was ek redelik benoud oor hoe die pad vorentoe sou lyk. (Akademiese draaie en finansieële doodlope.)  Maar wat ‘n ongelooflike ervaring was 2024 toe nie? Talle nuwe ondervindings, nuwe vriende en ‘n nuwe leefstyl te danke aan die Noordelike Helpmekaar Studiefonds.

Matriek was ‘n jaar gevul met onsekerheid. Nie net het dit soos ‘n ewigheid gevoel om uiteindelik die e-pos te kry wat sou bepaal of ek inkom vir my droomkursus of nie, maar daar was ‘n onderliggende knaag van onsekerheid oor hoe ek vir my studies sou kon betaal. Iewers het ek gehoop dat ek die Lotto sou wen! Uiteindelik het dit gekom, en met ekstase en trots het ek my plek in TUKS se Mediese klas van 2029 aanvaar.

Die studies was toe inderdaad so moeilik soos wat “hulle” gesê het. Daar was al baie meer laat aande, koffies en angsaanvalle as wat meeste mense voor sou hoop. Maar aan die einde van die dag is ek ongelooflik dankbaar vir die besondere groot voorreg wat vir my gegee is. Teen dié tyd het ek al ervaring in disseksies, verskeie afdelings van farmakologie en ‘n wye kennis van die menslike lyf se fisiologie. Ek is ook vreeslik lief vir die mediese kampus waar ek ure in die biblioteek spandeer, en ook van die Universiteit se briljante mediese toerusting gebruik kan maak.

My ouers het vir die eerste keer van die NHS gehoor by vriendin, en kort voor lank het ek ook daarvoor aansoek gedoen. Vanaf my aanvaardinging het hulle ‘n groot las van my skouers gelig. Ek het nou die voorreg om meer spaarsamig met my eie geld te kan werk, terwyl ek ‘n spanningsvrye studentelewe leef.