Ek beskou myself as ‘n ekstrovert en meelewend.  Ek deel graag idees met mense en wil ook deel wees van alles om my. Ek geniet dit om te studeer, nuwe dinge te leer en om saam ander te werk aan iets wat regtig  saak maak.

Ek dra dikwels my emosies op my mou en het altyd ‘n inset om te lewer. Ek  geniet kreatiwiteit in my lewe en neem graag deel aan debatte en besprekings oor die lewe en alles wat dit behels.

Dit is my droom as ‘n jong Suid-Afrikaanse vrou om in die werksomgewing eendag  naam te maak en om vir my en my familie te kan sorg. Dit het vir my ‘n passie geword omdat ek graag eendag wil kan se ek het hard gewerk om êrens te kom.

Maar voor ek die sterre kan bereik, moet mens eers leer om te vlieg. Tans is ek in my derde jaar en dit is my doelwit om die jaar my graad ‘cum laude’ te slaag- en sover gaan dit goed. Daarna wil ek graag ‘n jaar in Thailand gaan spandeer om ander kulture ook te ervaar en te beleef, voordat ek voluit die grootmens-lewe aanpak. Daar is nie ‘n dag wat ek nie trots en dankbaar is om hierdie geleentheid te kon kry nie en ek wil graag die Noordelike Helpmekaarstudiefonds bedank vir hul finansiële bystand op hierdie pad na my toekoms.