Marthinus SwartMet die finansiële hulp van die Noordelike Helmekaar-Studiefonds het ek in 2017 my BA-graad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Drie jaar van harde werk was die moeite werd deurdat ek uiteindelik dié graad met lof geslaag het en as top-student vereer is met die Politikon-prys.

Ek is tans besig met honneurs by dieselfde universiteit en my navorsing fokus op  die vraagstuk van Afrikaner-identiteit in die post-koloniale Suid-Afrika en hoe dié identiteit debatte rondom grondhervorming skep en kan beïnvloed.

Ek hoop om nog lank te skryf oor die uitdagings wat sowel die Afrikaner as Suid-Afrika in die gesig staar en om só te help om mense se persepsies oor hul werklikheid te bevraagteken en uiteindelik tot nuwe insigte te kom.

Sedert my tweede jaar is ek ʼn tutor vir eerstejaars en vanjaar is ek ook lektorsassistent. Ek het dus nie baie tyd om te bestee weg van die kampus af nie, maar wanneer ek wegbreek, is dit om saam met vriende te gaan rotsklim of om op toue oor klowe te loop. In die berge tussen rotse is waar ek my batterye herlaai.