Onetiese gedrag kan jou loopbaan baie skade berokken én emosioneel, psigies knou

Onetiese gedrag in verskeie sektore kom toenemend voor in Suid-Afrika – van die private en  openbare sektor, tot op akademiese gebied. Daarvan getuig mediaberigte, selfs regsaksies en -optrede, met reëlmaat.

Dr Paul Vorster, senior navorsingspesialis by The Ethics Institute in Pretoria, beaam dié tendens én beklemtoon dat daar nie genoeg aandag aan die belangrike kwessie van etiek, veral in die akademie, gegee word nie. “Solank as wat etiek ’n ‘sagte kwessie’ bly pleks van bo-aan die sakelys te wees, sal ons nie uit dié moeras kom nie,” beklemtoon hy.

Dr Paul Vorster, senior navorsingspesialis, The Ethics Institute

Negatiewe gevolge

Wat onderwys en opleiding betref, is dit nie net leerlinge en studente wat hulle aan onetiese gedrag en praktyke skuldig maak nie, maar ook dosente en onderwyshoofde. Benewens die feit dat dit niks goed vir die heil en stand van onderwys in die land voorspel nie, kan dit studente én werknemers wat hul daaraan skuldig maak, met verloop van tyd ook psigies heelwat skade berokken, wat erge depressie tot gevolg kan hê, sê hy en verduidelik:

“As jy nie die bewese waardes in jou instelling of organisasie eerbiedig nie, as jy dit deurgaans minag en daarop ‘trap’, sál jy oplaas ’n siniese, uitgebrande individu word. Daarvan is daar afdoende bewys: kyk maar na die Enron- en ander sakeskandale. Van die skuldiges het onder meer getuig dat dit vir hulle aanvanklik baie opwindend was om by hul maatskappy te werk, maar weens die stelselmatige assimilasie by ’n nuwe kultuur (ten koste van bewese waardes), het dit hul geestesgesondheid ernstig aangetas.  Ook in Suid-Afrika sluit die demografie van pasiënte aan psigiatriese hospitale talle hoëprofiel professionele mense in wat onder meer aan angs, depressie en ander geestesafwykings ly,” sê dr Vorster.

“Daarenteen is daar ook talle goeie en etiese mense wat, ten spyte van die risiko wat hulle loop, bereid is om morele moed aan die dag te lê en onetiese optrede aan die lig te bring.  Helaas, as jy eers die by die punt kom waar jy fluitjieblaser moet wees, is jou instelling/organisasie reeds reddeloos,” voeg hy by.

Etiese gedrag deurslaggewend vir sukses

Reg en verkeerd

“As jy as student of professionele persoon suksesvol wil wees en ’n volhoubare loopbaan wil volg, móét jy eties sensitief wees. Jy moet kan bepaal as die situasie ’n morele dilemma skep en ’n etiese besluit kan neem én dienooreenkomstig optree. Helaas lê te min mense deesdae hierdie sensitiwiteit aan die dag,” beklemtoon dr Vorster.

“Daar bestaan ’n siening dat etiese of onetiese gedrag ’n baie subjektiewe komponent is van wat mense as reg of verkeerd beskou, maar dit is nie só subjektief as wat ons geneig is om te dink nie. Wat ons wél van etiek weet, is dat dit ten beste gedefinieer kan word as gevestigde en grondige standaarde van reg en verkeerd.

“Die konsepte van reg en verkeerd is nie iets wat sommer net oornag gedebatteer en uitgepluis word nie. Trouens, daar word al sedert die begin van die mensdom geworstel met die kwessie van etiese/onetiese gedrag… en tot vandag toe worstel ons met wat reg en wat verkeerd is. Dink maar aan die gebruik van marijuana wat met verloop van tyd minder problematies geword het omdat dit wêreldwyd vir medisinale doeleindes aangewend word. Dit het daartoe gelei dat die gemeenskap, anders as vroeër, besluit het dit is nie noodwendig sleg nie,” verduidelik hy.

Om etiese gedrag beter te begryp, veral in die sake-omgewing, en in organisasies, asook opvoedkundige en ander instellings, moet dit vanuit ’n oogpunt van belanghebbendes benader word, beklemtoon dr Vorster. “Dit is nie net die kern van die King-verslag oor Etiek en van die meerderheid gepubliseerde riglyne vir private, openbare of staatsondernemings nie, maar dis ook van toepassing op individue,” sê dr Vorster.

Drie hoekstene

Volgens hom rus etiese gedrag op drie hoekstene –  die goeie, die self en ander. (The ‘good’, the ‘self’ and the ‘other’).

“‘Self’ kan jyself as individu wees, ’n organisasie, onderneming, gesin, ens. Insgelyks kan ‘ander’ ook ’n individu, organisasie, onderneming en gesin wees. Etiese gedrag is ’n wedersyds voordelige verhouding tussen jou en diegene wat op die een of ander manier deur jou geraak word sodat alle partye baat vind by die verhouding.

“Daarenteen versteur onetiese gedrag die balans tussen dít wat goed is vir jou én ander,” verduidelik hy voorts. “Dink byvoorbeeld aan korrupsie wat ’n paar individue ten koste van baie ander bevoordeel. Dieselfde geld vir diefstal in jou organisasie: niemand vind baat daarby nie want die organisasie word nou as werknemer uitgebuit. Derdens kan ’n organisasie, instelling of individu te groot risiko’s loop, wat nie net hulself nie, maar ook hul eie organisasie en ander benadeel. Die ‘self’ het die reg op bestaan, organisasies en ondernemings om wins te maak. Hulle betaal belasting en voer hul mandaat in die gemeenskap uit.

“Daar is dikwels die wanbegrip dat etiese gedrag primêr om selfopoffering jeens ander wentel. Ons is geneig om te dink dat altruïsme of deur goed te wees teenoor ander deur ons eie welstand op te offer, die hoogste vorm van ‘goed’ is. Dit is twak, want sodoende benadeel jy ’n entiteit, naamlik jouself, ’n organisasie of ’n onderneming.

Twee pilare

Volgens dr Vorster toon gesaghebbende navorsing deur primatoloog, prof Frans de Waal, dat selfs die mees basiese sosiale groepspesies twee ‘pilare’ van moraliteit handhaaf: enersyds billikheid/regverdigheid, en andersyds empatie. “Met ander woorde, as ’n groeplid te veel aanpak of nie in die beste belang van die groep optree nie, word die lid aanspreeklik gehou en kom straf ter sprake. Dieselfde geld vir beloning: as jy goed vaar, moet jy ook goed beloon word.

“In die akademie moet studente getoets word op ’n vlak waar hul prestasie op ’n gelyke speelveld beoordeel word. As ’n student oneerlik is of ‘kortpad’ kies, druis dit nie net in teen die ‘pilaar’ van moraliteit nie, die persoon betoon ook weinig empatie aan mede-studente, selfs onderwys en sosiale wetenskap in die geheel,” beklemtoon dr Vorster.

Kernoorsake van onetiese gedrag

Duisende kinders word sonder een of albei ouers groot en word onder die vlerk van ’n suster/broer geneem wat hulle grootmaak, verduidelik hy voorts. “Dus rus die verantwoordelikheid vir opleiding in etiese waardes, basiese beginsels en waardes, ’n  begrip van reg en verkeerd, ens. nou primêr op die skouers van skole, tersiêre instellings en private- en openbare-sektor-ondernemings. 

“Boonop is daar deesdae helaas amper ’n obsessie in Suid-Afrika om soveel matrikulante as moontlik deur universiteite te druk. Dít plaas geweldige druk op tersiêre instellings om akademiese uitnemendheid volhoubaar te verseker. Enersyds lei dit daartoe dat akademiese standaarde noodwendig daal en andersyds kan daar nie genoeg persoonlike toesig (‘proctoring’) oor studente gehou word nie. Dit gebeur al hoe meer dat hoogs professionele akademici universiteite verlaat omdat hulle bedenkinge het oor studente se vermoëns en die meriete van hul prestasie.”

Die virtuele omgewing waarin tersiêre onderwys deesdae geskied, kompliseer dinge verder in soverre dit makliker vir studente maak om inligting te bekom en sodoende beter punte te behaal, hetsy deur ’n mede-student/lojale vriend se hulp of ander bron. “Dosente wéét dit is die student se rekenaar, maar weet nie wie sit ágter die rekenaar nie. Daar is selfs gevalle waar studente iemand anders kry om ’n eksamenvraestel namens hulle te skryf. Weens die uitkontraktering van nasienwerk, is dit baie moeilik om dié soort wanpraktyke te stop.”

’n Onlangse opname wat anoniem onder sowat 30 000 studente gedoen is, het getoon dat soveel as 60%-65% van die studente aangedui het dat hulle oneerlik was. Voeg daarby die versinsel van resultate deur studente. Sedert COVID het oneerlikheid onder studente bes moontlik verder gestyg, glo dr Vorster.

“Terselfdertyd is daar ook druk op, en onrealistiese verwagtinge van akademici (en nagraadse studente) om artikels te publiseer, wat dit weer afwentel na studente om met navorsing te help. Dit plaas ’n vraagteken op die egtheid van die navorsing, voeg hy by. “In die sosiale wetenskappe sien ons dikwels artikels oor onderwerpe wat weinig verskil aan die gemeenskap maak, maar dit bring die dosente en studente wat die werk publiseer, heelwat krediete in die sak.”

Verloor perspektief

Die algemene opvatting dat mense eers later in hul lewe en loopbaan die pad byster kan raak, hou nie steek nie, glo dr Vorster. “Dit gebeur meerendeels al op ’n jonger leeftyd dat sommige professionele mense wel in hul eerste werkjaar struikel.

Heelwat werk word tans gedoen oor die ‘hurdle’ (hekkie-) model van etiese en onetiese gedrag, sê dr Vorster en verduidelik: “Voordat ’n persoon byvoorbeeld geld gesteel het, is dit heelwat moeiliker en minder waarskynlik dat hy dit sal doen. Maar sodra hy die ‘hekkie’ eers oorgesteek het, raak dit al hoe makliker en begin die persoon sy optrede rasionaliseer. Dit gebeur stellig met baie idealistiese studente wat begin werk en dan skielik met geld en prestasiedruk gekonfronteer word. Hulle sien ook dat hul bestuurders ‘kortpad’ vat en besluit dít is hoe die spel gespeel moet word.  Hulle verloor perspektief van die etiese maatstawwe en gedrag en vereenselwig hulle met die ‘nuwe orde’.

Dít kan jou helaas nie net jou loopbaan kos nie, maar ook in breër verband (jou geestestoestand, gesin, ens.) kan dit jou baie duur te staan kom, beklemtoon hy ten slotte.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie