Ruan MoolmanEk het in Virginia in die Vrystaat grootgeword, waar ek in 2016 aan die Hoërskool Hentie Cilliers gematrikuleer het. Aangesien so baie mense in my grootwordjare skynbaar hul seuns Ruan wou noem, het ek op skool altyd daarna gestreef om die beste Ruan te wees wat ek ken.

Ek is tans in my tweede jaar LL.B aan die NWU se Potchefstroom-kampus. Die ondervinding – en die kans om ʼn sukses te maak – geniet ek terdeë. Ek wens net daar was meer tyd vir dans en drama, maar die Regte is nie ʼn grappie nie.

Helpmekaar  het my nou vereer met ‘n merietetoekenning en ek is ook genooi om lid te wees van die internasionale vereniging Golden Key. Daarby het ek NWU se erkenning gekry danksy ʼn akademiese gemiddeld bo 75%. Net 220 studente in die Regte op al drie Potch-kampusse kon dit regkry.

Ek sal altyd dankbaar wees vir al die ondersteuning wat ek van almal kry. En ek weet nie wat sou ek doen sonder ʼn Helpmekaar-studielening nie!