Ses jaar gelede het ek die beroep ontdek wat ek in my toekoms sal wil volg, en van daar af het ek gewerk om daardie droom ‘n werklikheid te laat word. Vier jaar terug het ek aan die Hoërskool Kroonstad matrikuleer as Dux-leerder en onder die Top 50 beste presteerders in die Vrystaat geëindig. Ek is tans ‘n vierdejaar student in Farmasie aan die Noord-Wes Universiteit.

Deur die vier jaar het ek so baie van myself en my studierigting geleer, en ek is baie dankbaar vir die geleentheid om dit wel te kon doen. Ons praktiese ervaring, waar ons die geleentheid gehad het om mense te kon help, het my verder oortuig dat ek die regte besluit geneem het.

As mens besef dat jy in jou finale jaar is van studeer, kan jy nie anders as om dankbaar te wees vir almal se hulp en ondersteuning wat jou tot hier gebring het nie. Die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds het my die geleentheid gegee om iets te kan studeer wat ek sal geniet om die res van my lewe te doen, en ook om ‘n graad agter my naam te hê, en ek sal ewig dankbaar wees.