As kind het my ouers my groot gemaak met die gedagte dat die lewe te kort is om nie jou grootste drome na te streef nie! Dit het my ook laat dink aan hierdie aanhaling van Steve Jobs: “If you don’t love it, you’re going to fail.”

Ek het in 2016 aan die Hoërskool Eldoraigne matrikuleer. Ek was nie honderd-persent seker wat ek wou studeer na skool nie, maar ek het geweet dat die belangrikste was om iets te vind waarvoor ek ʼn passie het.

Die veld van IT het my nog altyd gefassineer en soos ek ouer geword het, het ek regtig besef hoeveel potensiaal die wêreld van IT het om mense se lewens te verander. Ek is iemand wat daarvan hou om prakties te wees, mense iets te leer en op dieselfde oomblik hulle lewens te vergemaklik. Programmering is altyd vol nuwe uitdagings en probleme om op te los en daarom het ek uiteindelik geweet dit is wat ek met my lewe wil doen.

Tans is ek besig met my finale jaar  BSc IT aan die Noordwes-Universiteit. Met my ouers se ondersteuning, die Here se genade en die Noordelike Helpmekaar Studiefonds se lening, kon ek tot dusver my drome najaag en aan my toekoms bou.

Alhoewel ek glo in harde werk, glo ek ook daarin om gebalanseerd te lewe en verskillende dinge in die lewe aan te pak, wat jou as mens vorm en laat groei. Buiten die tye wat ek agter my rekenaarskerm spandeer, is ek baie lief vir die natuur en buitelugaktiwiteite. My stokperdjies bestaan uit visvang, fietsry en om produkte van leer te skep. Verder neem ek troues saam met my meisie af en gee ekstra fisika- en wetenskapklasse vir hoërskoolkinders. Pizza-aande saam met vriende gee my brein bietjie ruskans en my pizzarekord staan tans op 16 stukke.

Vandag is ek dankbaar vir die afgelope paar jaar se verskillende avonture wat geskaaf het aan my uithouvermoë en my gehelp het om gefokus te bly op die einddoel.

Baie dankie vir die meriete toekenning. Dit is altyd lekker om weer eens te besef dat as jy hard werk, sal jy die vrugte daarvan pluk! Ek sien uit na al die nuwe maniere waarop die lewe my gaan verras.