TEGNOLOGIESE ONTWIKKELING VEREIS TRANSFORMASIE

…in hoër onderwys en die werkplek

Die jaar 2024 het skaars sy buiging gemaak of ons word opnuut bewus gemaak van die feit dat tegnologiese ontwikkeling besig is om die wêreld om ons onherroeplik te verander, op bykans elke gebied. Met reëlmaat word daar in die media oor die rol van tegnologie in die ‘ontwrigting’ van die werkplek, sowel as in onderwys en opleiding berig.

Veral onder die soeklig in die jongste tyd, is die impak – en toekomstige gebruik – van tegnologieë soos ChatGPT-4, “Generative AI” (oftewel skeppende kunsmatige intelligensie’ (SKI), en ‘Large Language Models’ (LLM) (oftewel omvattende taalmodelle).

Kortom, KSI maak die skep van realistiese simulasies, wat op verskeie gebiede soos opleiding/onderwys, vermaak en navorsing ingespan kan word, moontlik. Omvattende taalmodelle is diepgaande leermodelle wat vooraf ‘opgelei’ is in ’n groot hoeveelheid data. Die onderliggende ‘transformator’ is ’n stel neutrale netwerke bestaande uit ’n enkodeerder en dekodeerder met selfaandagvermoëns (‘self-attention capabilities’).

Dié tegnologiese ontwikkelings, tesame met ander digitale wendings, voorspel nie net dat tradisionele praktyke en gebruike in die werkplek én onderwys en opleiding verder ontwrig gaan word nie, maar ook dat vernuwende denke en opleiding in hoër onderwys én die werkplek onvermydelik is.

Terselfdertyd gaan dit jonges wat verder wil studeer en hulle vir die werkplek van die toekoms wil bekwaam, dwing om hard en indringend oor lewensvatbare studierigtings en loopbaankeuses te besin.

Transformasie van hoër onderwys

Geen instelling sal immuun kan bly teen sommige belangrike aandrywers van wêreldwye verandering wat ons almal raak nie, het onderwyskonsultant, emeritus prof. Stephen Parker, al in 2020 aangevoer in ’n KPMG-studie getiteld The Future of Education in a Disruptive World. Voor sy aftrede by KPMG in 2021, was hy leier van Onderwys en Vaardighede by KPMG en spesiale internasionale onderwysraadgewer van KMPG in Australië.

“Die Vierde Industriële Rewolusie, ’n saamsmelting van eksponensiële tegnologieë waar silikoon en koolstof ontmoet, sal net so diepgaande wees as die vorige rewolusies wat deur stoom, elektrisiteit en rekenaarwese gedryf is. Die skoolklaskamer, die werkers se instelling, die burgerlike, tegnologiese en navorsingsuniversiteit kán gepaar word met die ekonomiese en maatskaplike behoeftes van hul tyd. Die vermoë om te transformeer sal deurslaggewend wees vir alle opvoedkundige instellings sodat hulle op die veranderende wêreld van onderwys kan reageer én dit kan vorm,” sê Parker onder meer in dié studie.

Prof. Tshilidzi Marwala, rektor van die Universiteit van die Verenigde Nasies en ondersekretaris-generaal van die VN, beklemtoon ook die belangrikheid van herbesinning en transformasie in hoër onderwys. “In ’n ontwrigtende digitale omgewing, met toenemende ongelykhede wêreldwyd, is ’n fundamentele herbesinning oor hoër onderwys dringend nodig,” het hy verlede jaar by geleentheid van ’n Volhoubaarheidsforum vir Hoër Onderwys gesê.

Prof Tshilidzi Marwala

’n Suid-Afrikaner van geboorte, Prof Marwala het hom onderskei as ’n gerekende KI-ingenieur, rekenaarwetenskaplike en meganiese ingenieur. Hy was voorheen verbonde aan die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van Pretoria, en is in Augustus 2023 in die wetenskap-adviesraad van die VN aangestel.

“Die eerste herbesinning is om die veranderende rol van universiteite te herdefinieer. Ons moet die transformerende potensiaal erken van die tegnologieë om die toekoms van onderwys te hervorm en studente voor te berei vir ’n KI-gedrewe wêreld,” het hy gesê en bygevoeg dat digitale gereedskap toegankliker gemaak moet word, wat sal help om die (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDGs) te verwesenlik.

“Tweedens, met inligting wat vinniger beskikbaar raak, moet universiteite dit prioritiseer om studente te leer hoe om krities te dink en hoe om in ’n digitale era te studeer – die vermoë om te onderskei, te evalueer en kennis toe te pas is ’n menslike vaardigheid, met inbegrip van hoe om vals inligting te bepaal.

“Voorts het KI die potensiaal om leerervarings totaal te hervorm deur die onderwys te verpersoonlik, aanpasbare terugvoering oor leer te verskaf en individuele gevisualiseerde onderrig te ondersteun. Deur hierdie tegnologieë te benut, kan universiteite vir uiteenlopende leerstyle voorsiening maak én spesifieke onderrigbehoeftes veel doeltreffender as voorheen aanpak.”

Laastens is daar etiese en wetlike kwessies rondom KI en verwante tegnologieë, het hy aangevoer. “In die besonder deursigtigheid, billikheid, privaatheid en datasekuriteit is van die uiterste belang,” het hy beklemtoon. Dit is dus noodsaaklik dat universiteite kragtige etiese riglyne en regulasies vir die gebruik van KI ontwikkel wat die etiese gebruik van data sal verseker en die regte en welstand van studente en opleiers sal beveilig.

Veranderende werkplek

Volgens die Future of Jobs Report 2023 van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) gaan die impak van die meeste tegnologieë oor die volgende vyf jaar ’n positiewe uitwerking hê op beroepe. Landboutegnologieë, digitale platforms en toepassings, elektroniese en digitale handel en KI gaan na verwagting beduidende ontwrigting in die arbeidsmark teweeg bring. Grootdata-analise, klimaatsverandering en omgewingsbestuurstegnologieë, asook enkodering en kuberveiligheid gaan na verwagting die grootste aandrywers van verandering wees.

KI- en masjienleer-spesialiste , data-ontleders, wetenskaplikes en transformasiespesialiste gaan teen 2027 die belangrikste  ontwikkelde beroepsrolle wees, voorspel die verslag, met ’n toename van 40% in die aantal KI- en masjienleer-spesialiste, ’n styging van 30%-35% in die vraag na rolle soos data-ontleders, wetenskaplikes of grootdata-spesialiste, en ’n 31%-styging in die vraag na inligtingsveiligheidsanaliste. Dít, op sigself, sal altesaam 2,6 miljoen werkgeleenthede skep.

Daarenteen gaan klerikale of sekretariële rolle, soos banktellers en verwante klerke, posdiensklerke, kassiere of kaartjieklerke en data-inskrywingsklerke, relatief tot hul grootte tans, na verwagting die vinnigste taan aangesien dit toenemend deur tegnologie en digitalisering gedryf word.

Mense die kern

Volgens ’n verslag deur Accenture, professionele-dienste-maatskappy wat in inligtingstegnologiedienste en konsultasie spesialiseer, gaan mense die kern vorm van die suksesvolle gebruik van KI.

Die potensiaal van KI om die wêreld te hervorm, beteken dat maatskappye nóú moet leer hoe om te vermy of agterweë gelaat te word. Dit gaan grootliks meebring dat hulle sal moet verseker dat werknemers nuwe vaardighede ontwikkel wat in die KI-era vereis gaan word, sê Accenture in ’n KI-verslag.

Die verslag wys daarop dat sukses met skeppende KI gelyke aandag moet bestee aan mense en opleiding aan die een kant, en tegnologie aan die ander. Dit beteken dat die uitbou van talent in tegniese hoedanighede soos KI-ingenieurswese (engineering) en ondernemingsargitektuur, sowel as die opleiding van alle mense in die organisasie om doeltreffend met KI-gedrewe prosesse te kan werk.”

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie