“Work until you no longer have to introduce yourself”.

 Die leer van sukses kan dikwels frustreerend wees. Een oomblik staan jy op die podium met die goue medalje in jou hand en in ‘n oogwink vee jy die stoorkamers uit van ‘n baie groter besigheid. So beweeg ons van laerskool, na hoërskool en dan uiteindelik universiteit toe, elke keer met net ‘n oomblik se asemhaal en waardering, voor dit weer tyd is om die stryd aan te pak en die boeke te tref. Hierdie lewenswyse bied jou egter die geleentheid om op ‘n baie jong ouderdom ‘n ongelooflike werksetiek aan te leer wat op die ou einde jou suksesverhaal kan maak of breek.

Ek het uiteindelik na 3 jaar my BSc graad verwerf in Dierkunde en Mikrobiologie, en sonder om dit te veel te vier, het ek besluit om my Honneurs te doen in Geïntegreerde Plaagbeheer.

 Deur die 3 jaar was ek aan ‘n wye veld van biologiese modules blootgestel soos, dierkunde, plantkunde, fisiologie, chemie en mikrobiologie. Werklik iets van alles met spesiale aandag op my hoofvakke. Dit het my nie net die geleentheid gegee om myself te verloor, en weer te vind, in ‘n veld waarvoor ek ongelooflik lief is nie, maar ek verstaan nou uiteindelik ‘n gedeelte van die legkaart wat my wys hoe elke stukkie van God se natuur in mekaar pas. Buiten my studieveld het ek ook geleer wat dit beteken om hard te werk. Om tot 6 uur op ‘n Vrydagmiddag in ‘n chemie laboratorium te sit en tot lank in die skoolvakansies met take en toetse besig te wees. Maar sonder dat mens dit besef, skep dit ‘n gewoonte binne jou om NOOIT op te hou leer nie. En dis waar ek dink die ware sukses lê. “Anyone who stops learning is old, whether at twenty or eighty. Anyone who keeps learning stays young.”- Harrison Ford.

Ek wil dankie sê vir die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds wat my in staat gestel het om soveel meer te leer as wat daar in die boeke staan. Dankie vir die geleentheid om my horison te verbeed en dankie vir die helpende hand wat julle gee om die boublokke van my toekoms neer te lê.