Dis 2022, en ek vind myself as ‘n 5de jaar mediese student aan die Universiteit van die Witwatersrand, nadat ek reeds ‘n BHSc graad voltooi het in 2019. Ek kan onthou dat ek as kind laas soveel dae en nagte gehuil het, meestal oor spanning en min slaap, en so ook was ek as kind laas so gelukkig en opgewonde in die studierigting waarin ek tans is. Ek sal dit vir absoluut niks verruil nie. Elke oomblik bied nuwe uitdagings en wek ‘n nuwe passie in my op. Ek kan feitlik nie wag om (hopelik) oor 2 jaar myself ‘n dokter te kan noem nie. 

My ouers en Helpmekaar-Studiefonds sê soveel keer hoe trots hulle op my is en wat ‘n voorreg dit vir hulle is om my te kan ondersteun. Maar as ek nou mooi daaroor gaan dink, is dit vir my ‘n vooreg en seën om my drome te verwesenlik. Vandag weet ek sonder hierdie groot pilare in my lewe, was dit nie moontlik nie.