Ek was nog altyd mal oor diere. Ons het langnaweke by Mabalingwe Natuurreservaat spandeer en daar het ek my verwonder aan die bokkies, ystervarke, vlakvarke, seekoeie en al die verskillende voëls wat ek met my verkyker kon bestudeer. My Oupa sou graag vir my verskillende tipe voëls uitwys en vir my boeke oor hul koop.

As kind op laerskool het ek hierdie liefde in my hart vir diere en die natuur gedra, en  moes ek ook plek maak vir my volgende groot liefde: Biologie. Ek

het op hoërskool besef dat ek graag iets in die wetenskaplike rigting  sou wou gaan swot, en het begin droom oor ‘n loopbaan in Genetika of Biochemie.

In graad 11 het ons ‘n ‘werkskadu’-taak gekry – basies moes jy ‘n dag gaan spandeer saam iemand wat dieselfde beroep volg as waarin jy belangstel. Ek was nie seker wat om te kies nie – en gevolglik het ek toe  die veeartskliniek naby die hoërskool besoek. Dit was vreeslik interessant, en van daardie dag af het ek besef dat ek my liefde vir biologie en vir diere in dié fantastieste beroep kan kombineer.

So het ek in my tweede jaar van BSc Veekunde toelating gekry tot die BVSc program wat op Onderstepoort aangebied word. Ek leer elke dag oor goed wat my opgewonde maak en kan dikwels my nuwe vaardighede uitprobeer in die praktiese klasse.

Tans is ek vierde jaar, en het nog 2 jaar oor. Die tyd vlieg verskriklik! Ek sal graag eendag met honde en katte wil werk, en ek stel baie belang in Dermatologie, Chirurgie en Oftalmologie (oogheelkunde).

Om elke dag my droom uit te leef is ‘n voorreg en ek wil hierdie geleentheid gebruik om my wonderlike pa, ma en boetie te bedank vir al hul ondersteuning, asook die Noordelike Helpmekaar Studiefonds vir hul finansiële bystand op hierdie opwindende pad na my toekoms.