WAAR DAAR ‘N WIL IS, IS DAAR ‘N WEG

’n ‘Gap’-jaar kan van groot nut wees

 

Gedurende haar hoërskooljare aan Northcliff High School in Johannesburg, was dit Megan Raubenheimer se droom om aan ’n universiteit te gaan studeer en ’n loopbaan in die biowetenskappe te volg. Ondanks haar prestasies en goeie punte in Graad 12, het haar aansoek om toelating aan die Universiteit van die Witwatersrand nie geslaag nie, en ’n oorbruggingsjaar (‘gap’ jaar) was haar voorland. Daarvan het sy die beste gemaak, glo sy. Dit het haar nie net gehelp om in ’n groot mate finansieel selfstandig te word nie, maar ook om haar tyd ten beste te bestuur. Vanjaar het haar aansoek om toelating tot Unisa geslaag, en sy studeer met ’n NHSF-lening.  Sy vertel meer…

Megan Raubenheimer

V: Omdat jy in 2021 weens studentegetalle nie toelating tot die Universiteit van die Witwatersrand kon kry nie, was verlede jaar ’n oorbruggingsjaar. Hoe het jy die jaar deurgebring en wat het jy uit dié ondervinding geleer? Het jy enige raad vir studente in soortgelyke omstandighede?

A: Ek het probeer om so besig as moontlik te bly. Dit het onder meer behels om ’n kelnerin/kroegvrou te wees, huise op te pas en skryfwerk vir laerskoolleerlinge te doen.  Dit was baie voordelig aangesien dit my geleer het hoe om my tyd te bestuur en terselfdertyd spesifieke mensvaardighede te leer wat ek nie sou kon baasraak as ek nie in die betrokke omgewing gewerk het nie.

Ek sal voornemende universiteitstudente wat ook nie toelating kry nie, sterk aanbeveel om elke moontlike geleentheid tydens hul ‘gap’-jaar te gebruik om werkservaring op te doen, asook die vryheid te benut om hul eie geld deur harde werk en toewyding te verdien.

V: Vanjaar was jy suksesvol om by Unisa in te skryf – wat studeer jy en wat is die voor- en nadele van afstandsonderrig?

A: Ek studeer tans vir ’n BSc-graad in lewenswetenskappe en spesialiseer in biomediese wetenskappe. Virtuele studies/afstandsonderrig kan baie afgesonderd en eensaam voel as dit net jy en jou rekenaar is. Ek is egter gelukkig dat ek genoeg vriende het wat ook deur Unisa studeer, dus het ons ons eie klein gemeenskap geskep om ons te motiveer – ’n groot seën. Die grootste voordeel van afstandsonderrig is die buigsaamheid om self jou program te bepaal en waar jy elke dag kan studeer. Ofskoon virtuele studies/afstandsonderrig baie moeilik is, het dit my gehelp om my vermoë om tyd doeltreffend te bestuur, geweldig op te knap.

V: Het jy nog enige deeltydse werk: Indien wel, hoe balanseer jy jou studies met werk?

A: Ek pas steeds huise op, skryf vir leerlinge wat dit nodig het en sal weer kelnerin/kroegvrou wees sodra my studies aan die einde van die jaar minder word. Aan die begin van die jaar was dit baie moeilik om my werk en studies te balanseer en om meer op my studies te konsentreer, het ek die kroegwerk laat vaar. Terselfdertyd was deeltydse werk baie bevredigend en leersaam, maar ek maak seker dat ek allereers op my studies fokus en tot dusver het dit baie gehelp om die nodige balans tussen my werk en studies te behou.

V: Wat is jou ander belangstellings?

A: Ek geniet dit om kos te maak, te lees en rolprentresensies te skryf.

V: Wat wil jy, loopbaan-gewys, die graagste bereik?

A: My hoofdoel is om ’n loopbaan te hê waar ek ’n verskil kan maak en mense kan help. Ek wil elke oomblik geniet van dít wat ek doen, en in my geval beteken dit dat ek altyd aktief betrokke sal wees om iemand se lewe te verbeter.

V: Het jy gedurende jou skooljare enige mentors/rolmodelle gehad wat jou besonder geïnspireer het?

A: Nee, nie gedurende my skooljare nie, maar my ouers en vriende het gehelp om my te vorm sodat ek vandag ’n uiters gemotiveerde persoon is – en daarvoor ek is baie dankbaar! 

V: Wat/wie hou jou op koers?

A: Die twee mense wat my die meeste gehelp het om op koers te bly is my kêrel en my beste vriendin. Hulle het my gehelp om ten volle bewus te wees van alles in en om my (mindful), asook om gemotiveerd te bly om te doen wat ek glo is reg. Om soveel goeie ondersteuning van hulle te kry, het my gehelp om my kop omhoog te hou en sterk te bly, selfs te midde van die grootste uitdagings.

V: Is jy optimisties oor Suid-Afrika se toekoms?

A: Dit is moeilik om optimisties te bly wanneer daar soveel negatiwiteit om jou is, maar die jeug van Suid-Afrika is iets positief. Ek put groot vreugde uit die feit dat ek deel kan wees van Suid-Afrika se toekoms en ek glo, met die nodige positiwiteit en aanmoediging van die jeug, het die land ’n kans om weer ’n goeie en mooi plek te word.

 

 

 

 

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie