Spreuke 3:5-6  “Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys.”

Hierdie is die vers wat al so dikwels in my lewe vir my belangrike keuses help neem het, onder andere ook om medies te swot. As mense  in matriek my gevra het hoekom ek juis medies wil swot, sou  ek nie eers  myself kon oortuig hoekom ek hierdie rigting wil aanpak nie. Ek was sterk op pad Stellenbosch toe om BSc in Menslike Wetenskap te gaan ‘swot’ en het op die laaste nippertjie ‘n epos ontvang van die Universiteit van die Vrystaat dat ek suksesvol n plekkie gekry het in die MBCh- klas. Ek het besef dat die Here op daardie stadium vir my die pad duidelik gemaak het!

My Pa het my baie gehelp om te soek vir studiefondse en na baie navorsing en ondersoeke het ons afgekom op die Helpmekaar-Studiefonds wat dit moontlik maak vir my om tans al in my 4de jaar te wees en hopelik volgende jaar weg te kan stap met n Dr. titel  agter my naam. Hiervoor is ek baie dankbaar!

Ek het lewenslange vriendinne gemaak op Universiteit en weet nie hoe ek jaar na jaar sou deurmaak as dit nie was vir die ondersteuning en lekker tye wat ons beleef het hier in die hartjie van die Vrystaat nie. Om Saterdag-oggende die Boeremark in Langenhovenpark te gaan besoek, pannekoek te eet, ‘n klein bossie blomme daar te koop en ‘n lekker koffie saam te geniet is altyd ‘n wenner. Meeste van ons dae draai maar om die akademie, maar as ons iets doen, maak ons seker dit is ‘n goeie wegbreek van die boeke!

Die kursus het maar sy uitdagings, net soos enige ander, met al die laataande in die ongevalle eenheid, om traumatiese gevalle vir die eerste keer te sien  en baie ure agter die boeke te sit. Dit verg intense uithouvermoë om altyd positief en gemotiveerd te bly. Maar die belonging wat mens kry van jong meisies wat in trane uitbars van danbkbaarheid as jy hulle help, tannies in die onkologie eenheid wat n mussie brei vir jou en ‘n oom wat vir jou sê jy moet net aanhou, jy gaan eendag ‘n verskil maak in mense se lewens. Dit maak dit elke  oomblik die moeite werd! Ek sal altyd my pa se woorde onthou as dit moeilik gaan: “ Onthou net altyd, wat ookal oor jou pad kom, moenie links, regs, voor of agter jou kyk nie, kyk net op na Bo en onthou van waar jou krag kom.”

Ek is baie lief daarvoor om te oefen, draf is my emosies se klankbord,  en ek neem graag deel aan n drafgeleentheid van tyd tot tyd. Om in die berge te hardloop is vir my by verre die lekkerste en mees betekenisvolle aktiwiteit . Ek het n groot liefde vir die natuur en my naastes om my.

Ek is baie dankbaar vir my ma en pa, sonder hulle ondersteuning weet ek nie hoe ek dit tot hier toe sou maak nie. Ek sal vir die res van my lewe hulle liefde en omgee  koester, veral vir wat hulle vir my gedoen het deur my studiejare.

Ons vriendinne se altyd vir mekaar: “Hierdie is nie n beroep nie, dis n roeping.” Dit help my om elke dag op te staan en te besef ek doen dit nie vir myself nie, maar net vir die Here wat Sy Wil oor my pad gestuur het en my wil gebruik vir Sy koningkryk hier op aarde.