In 2016 het ek gematrikuleer en toe besluit om daarna Verpleegkunde te gaan studeer. My belangstelling in Verpleegkunde het begin na ‘n ongeluk waarin ek was in 2014. Ek het baie te doene gehad met hospitale, dokters, en verpleegpersoneel. Ek het die geleentheid gehad om vir ‘n jaar en ‘n half by ‘n Ortopeed, Dr. Aucamp, te gaan werk wat my behandel het en dit was vir my net nog ‘n bevestiging om Verpleegkunde te gaan studeer.

Te danke aan die Here en aan Noordelike Helpmekaar-studiefonds, kon ek my droom volg en BCur Verpleegkunde studeer by NWU in Potchefstroom. Ek is baie bevoorreg om te kan studeer waarvoor ek lief is en waarvoor ek ‘n passie het.

Verpleegkunde is nie net ‘n roeping nie, maar dis ook ‘n passie in my lewe!

Ek is tans ‘n tweede jaar student en ek geniet nog elke oomblik daarvan. Die prakties en die akademie geniet ek net nog meer as verlede jaar. Wanneer ek my prakties doen, doen ek dit in ‘n staatshospitaal, ‘n kliniek, en ook op kampus. Die ondervinding wat ek in die staatshospitaal kry is van groot waarde.

Sommige gevalle is nogal moeilik en hartseer, maar dis dan vir my ‘n voorreg om daardie pasiënt te kan help en by te  staan in dié moeilike tyd vir hulle. Die dokters en verpleegpersoneel is altyd bereid om my te help met die  prosedures wat ek besig is om te leer.

Ek wil weer eens baie dankie sê vir Noordelike Helpmekaar-studiefonds wat dit vir my moontlik gemaak het om te kan studeer.