Van  kleins af was ek nog altyd dol oor die natuur. Ek het altyd Crocodile Hunter gekyk en my verwonder aan al die wonderlike goed wat Steve Irwin doen. Om op my Oupa se plot te gaan kuier en tussen al die eende, swane, katte en koeie te loop was altyd een van die beste dinge om te doen op ‘n Sondag. My oupa was mal oor sy Jersey koeie wat hy gemelk het, dus dink ek dat ek my liefde vir diere van hom af gekry het. Hy het altyd vir my die HQ tydskrif gekoop, wat net vol prentjies van perde was, en dit sou my ure besig hou.

Op skool was my gunsteling vakke Wetenskap, Biologie en Wiskunde. Ek het geweet ek wou in ‘n biologiese rigting gaan ‘swot’ , maar ek was nog nie seker wat nie. Ek het net geweet ek wou ‘n ‘scientist’ wees.

Ek het gedink aan veearts as iets wat ek kan oorweeg, maar ek was nie seker of ek alles sou kon hanteer wat deel van die beroep is nie. Maar my liefde vir diere het my oortuig om baie ‘werkwaarneming’ te gaan doen by verskeie veeartse;  van diegene wat elke dag met honde en katte werk tot dié wat elke dag met produksiediere werk. Ek het besef  om ‘n veearts te wees, is nie net ‘n beroep  nie, maar ook ‘n lewenswyse. Ek het geweet dat dit baie moeilike gaan wees om vir die studierigting te kwalifiseer,  gevolglik het  ek het in Graad 12 besluit om my bes te doen om die beste resultate te kry. In my tweede jaar van BSc Veekunde, na die derde keer wat ek aansoek gedoen het vir BVSc, het ek toelating gekry. Dit was fantasties om te weet dat al my harde werk die moeite werd was.

Ek is tans ‘n derde jaar student by Onderstepoort en ek geniet elke oomblik daarvan. Alhoewel die werk baie is, is dit vrek interessant en ek geniet altyd die praktiese werk wat ons op koeie, perde of die honde doen. Ek is nog nie 100% seker oor watter rigting ek eendag sal wil volg nie, maar die lekker ding van veearts is, dat daar so baie goed is wat jy kan doen. Ek dink ek sal daarvan hou om by ‘n gemengde praktyk te gaan werk, sodat ek elke dag te doen kan kry met ‘n groot verskeidenheid diere, en dalk later in my loopbaan ‘n navorser te word, sodat ek nog steeds die ‘scientist’ kan wees wat ek nog altyd wou wees.