Ek is tans ‘n tweedejaar Professionele Chefstudent, by Capital Hotel School in die hartjie van die Jakaranda-stad.

Ek het my hele lewe lank al ‘n besondere passie vir kos en die wetenskap agter ‘n lekker bord kos. Nie net verg dit goeie kombuisvaardighede nie, maar ook baie flink-dink sessies, veral wanneer daar nuwe resepte aanmekaar gesit moet word.

Ek geniet my studies baie,  want nie net prikkel dit my kreatiewe ingesteldheid nie, maar gee dit my ook die kans om saam met ander mense te werk wat dieselfde passie as ek deel. Ek glo nog altyd dat jy nie ‘n dag in jou lewe werk as jy geniet wat jy doen nie. En ek het werklik dit eerstehands ervaar. Kos bring mense bymekaar. Ek is baie lief vir die natuur en is ‘n groot diereliefhebber. My honde is my grootste liefde en ek geniet dit veral om met hulle in die buitelug te speel. Ek geniet dit ook om kookprogramme op die televisie te kyk en so my kennis te verbreed. Ek is ook besonder gelukkig in ‘n vreedsame, stil omgewing met ‘n lekker boek.