My pa sê altyd vir my: Jonathan, die begin is belangrik, maar dit is die einde wat tel!

Van die begin af toe ek hierdie paar woorde gehoor het, het ek baie daaroor gedink in al my lewensuitdagings wat ek aangepak het. Dit dit het stadig aan my begin groei as deel van my lewensmoto. Ek glo om in elke oomblik van ‘n mens se lewensreis te volhard, uitmuntend te lewe, en elke tree met baie optimisme, entoesiasme en avontuur aan te pak!

Ek het in 2015 aan die Hoërkool Noordheuwel gematrikuleer. Die “begin” na hoërskool as ‘n jong volwassene was definitief gevul met baie groot drome, sonder perke. Te danke aan die die Here, my ouers en die Noordelike Helpmekaar-studiefonds se lening was dit moontlik vir my om te studeer, en staan ek vandag amper op die einde van my reis as ‘n student! Elke tree van my reis as ‘n student was baie spesiaal gewees! Ek het definitief meer lewenswysheid, vaardighede, ambisie en ‘n goeie graad verwerf wat my sonder twyfel gaan help om baie deure oop te maak om my drome te bereik. Ek kan beslis sê: die begin is belangrik, maar dis die einde wat tel.

Ek het baie geleer en gegroei in hierdie afgelope vier jaar en ware vriende gemaak. Ja, my vier jaar was gevul met baie tyd agter die boeke, maar goed gebalanseerd met van my gunstelling stokperdjies soos om te gaan stap in die berge, gesellige tye saam met my vriende, ure in die swembad te spandeer wanneer ek geoefen het vir die Midmar of op die fiets toe ek geoefen het vir die 94.7-fietswedren.

Nou staan ek amper op die einde van my Bcom Ondernemingsbestuur Honneursgraad en elke tree van my reis tot dusver was defintief ‘n wonderlike avontuur en seën gewees!

Dankie Noordelike Helpmekaar-studiefonds, julle het beslis ‘n groot rol gespeel daarin om my reis, as ‘n student om my graad te verwerf, te laat tel! Baie dankie vir die meriete toekenning, dit was ‘n groot onverwagte verrassing.