Ek het my Sielkunde Honneurs in 2021 behaal en is nou besig om ondervinding op te doen voordat ek verder studeer. Ek het aangesluit by die span van die South African Depression and Anxiety Group (SADAG), wat ’n platform het wat mense in nood kan bel. Ek is ook van plan om vanjaar betrokke te raak by nie-regeringsorganisasies wat met kinders werk. 

Sielkunde was nie my droom van die begin af nie. Ek het baie jonk al besluit ek gaan eendag ’n pediater word. Ek kon nie keuring vir medies kry nie en het toe besluit om vir ’n BSc met Sielkunde, Genetika en Fisiologie te studeer, sodat ek opsies het om van te kies. My BSc het ek by Tukkies behaal en die Honneurs by Varsity College.

 Ek het nog altyd baie belanggestel in die brein en hoe mense emosies hanteer. Dié belangstelling het toe ontwikkel in ’n liefde vir sielkunde. My droom is om kinders in Suid-Afrika te help om hul menswees  te bou, en hul vermoëns te ontwikkel, sodat elke seun en meisie ongeag hul omstandighede ’n sukses van hul lewe kan maak. Daar is so ’n groot behoefte hieraan in Suid-Afrika, omdat daar soveel minderbevoorregte kinders is. Ek weet ek droom groot, maar elke kind wat ek kan help, sal ’n verskil maak. 

Dit sou nie vir my moontlik gewees het om hierdie droom te realiseer as dit nie vir die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds was nie. Ek sal julle ewig dankbaar wees vir die sleutel was julle aan my gegee het om my loopbaan oop te kan sluit.