Ek het in 2018 my studies in Fisioterapie aan die Sefako Makgatho Universiteit vir Gesondheidswetenskappe begin. Ek is tans besig om my finale jaar van voorgraadse studies te voltooi.

My deelname aan sport is die hoofrede waarom ek besluit het om hierdie studierigting aan te pak, alhoewel ek ontdek het dat God vir my ‘n hart van omgee en ‘n passie gegee het om mense te help. Ek is ongelooflik opgewonde om te sien waarheen Hy my gaan lei gedurende my gemeenskapsjaar, asook in my loopbaan vorentoe – om deur my beroep Sy liefde vir ander te wys en om Hom te verheerlik!

Ek is só dankbaar vir my ouers se aansporing en bemoediging die afgelope vier jaar om my drome na te jaag en om te groei as die persoon wie God my gemaak en geroep het om te wees. Ek is ook dankbaar dat die Noordelike Helpmekaar Studiefonds my hierdie geleentheid gun om verder te kan studeer, my toerus om ‘n verskil te maak en talle deure na my toekoms oopmaak.

Wanneer ek nie besig is om te studeer of in die hospitaal te werk nie, spandeer ek graag my tyd buite deur. My vierpotige beste vriend vergesel my gewoonlik op opwindende avonture en ek hou daarvan om uitdagings aan te pak wat vasberadenheid en deursettingsvermoë verg – soos ‘trail running’ wedlope, driekampe ensovoort. Ek gaan ‘hike’ gereeld saam met vriende en ek het onlangs ‘n 160 km uithouwedren voltooi met my bergfiets.