TIEN VALSTRIKKE VAN STUDEER VIR DIE EKSAMEN

Bron: mieliestronk.com

ELKE eksamentyd gebeur dit — baie leerders se mae trek sommerso op ‘n knop van die eksamenkoors en senuwees. Hulle weet nie reg hoe hulle moet leer nie en die tyd begin hulle inhaal. Wie weet, dalk klink sekere van die tien aanhalings hieronder ook vir jou uiters bekend.

Maar die goeie nuus is dat alles waarskynlik nie vir jou verlore is nie. Lees gerus ons samevatting van wat die kenners oor die valstrikke vir studeer te sê het . . .  en hul onontbeerlike raad oor presies hoe ’n mens die nodige kennis in jou kop kan kry . . .

1. “Ek weet nie waar om te begin nie”

KRY beheer oor die situasie. Kry jou prioriteite reg! Maak ’n lys van al die dinge wat jy moet doen en breek jou werklas in hanteerbare brokke op.

2. “Ek het so baie om te leer . . . en die tyd is so min”

KYK na die betrokke vak se leerplan, handboeke en notas. Bepaal wat die belangrikste onderwerpe is en watter dele van die werk jy steeds nie begryp nie. Só ’n vooruitskouing bespaar tyd, deurdat dit jou help om te organiseer en op die hoofonderwerpe te fokus. Pas hierdie metode by jou eie styl en leerwerk aan — en spring weg! 

3. “Hierdie goed is so droog, ek kan nie eens wakker bly terwyl ek dit lees nie”

VAL AAN! Raak aktief betrokke by die teks terwyl jy dit lees. Vra jouself af: “Wat is belangrik om te onthou van hierdie gedeelte?” Maak notas of onderstreep sleutelkonsepte. Bespreek die stof met ander leerders in jou klas. Bly aanvallend ingestel, veral met stof wat jy nie interessant vind nie. As jy dit bloot passief sit en lees, kan jy sekere belangrike punte miskyk.

Baie kenners reken die beste manier om te onthou wat jy lees, is die VV-LHOH-metode. Dit behels eers ‘n Voorskou en be-Vraagtekening van jou leerwerk gevolg deur Lees, Herkou, Opsê en Hersien. (In Engels word dit kortweg die PQ4R-metode genoem — vir Preview, Question en vier woorde wat almal met ’n “r” begin: Read, Reflect, Recite, Review.)

As jy byvoorbeeld ’n hoofstuk in jou bibliogieboek lees, begin jy deur vlugtig die hele hoofstuk te lees sodat jy ’n oorsigtelike beeld daarvan kan kry. Stel dan vir jouself sekere vrae waarop jy gaan konsentreer terwyl jy studeer, byvoorbeeld: “Hoe werk fotosintese?”

Lees nou weer die hoofstuk aandagtig. Wanneer jy klaar is, dink wat jy gelees het en “herkou” dit. Dink hoe die hoofstuk jou vrae beantwoord het. Sê die antwoorde vir jouself op en verduidelik die inligting in jou eie woorde.

Uiteindelik gaan jy terug na die boek toe en blaailees jy weer deur die hoofstuk om die hoofpunte te bepaal.

Klink dit alles na harde werk? Dit gaan beslis langer duur as ’n vinnige deurlees, maar dis ook ’n baie goeie manier om te sorg dat jou jy leerwerk onthou. Jy gaan nie veel baat daarby vind om net voor die boek te sit en die bladsye om te blaai nie.
   

4. “Ek lees dit oor en oor, maar kan dit om die dood nie in my kop kry nie”

BEPROEF gerus wat die kenners geheuebrûe of geheuekrukke noem.

Een manier om lang lyste inligting te onthou is om die eerste letters van die belangrike woorde op die lys te neem en ’n sin daarvan te maak — hoe snaakser of absurder die sin hoe beter! As jy byvoorbeeld die volgorde moet onthou waarin die agt planete van ons sonnestelsel (plus die mini-planeet Pluto) van die son af lê, kan jy die volgende sin saamflans: My Vreeslike Agtelosige Ma Jol Soos  ’n Uiters Naïewe Pop-ster!

Die M in My staan dan vir Mercurius,  die V in Vreeslik vir Venus, die A in Agtelosige vir Aarde, gevolg deur die ander woorde wat onderskeidelik begin met die beginletters van Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus en Pluto. (Vir Engelssprekendes sal hierdie sin ewe goed deug: My Very Earthly Mother Just Served Us Nine Pizzas.)

En om die kleure van die spektrum te onthou: Rotte Op Geel Groente Baklei In Vrede  — vir  Rooi, Oranje, Geel, Groen, Blou, Indigo, Violet. (In Engels: Richard Of York Gave Battle In Vain.)

Jy kan ook leer om geheuekaarte saam te stel. Skryf die naam van ’n onderwerp in ’n vierkant in die middel van ’n bladsy en teken takke wat daaruit spruit waarin jy dan die besonderhede van jou leerwerk skryf. Hierdie metode stem ooreen met die manier waarop die brein inligting verwerk, en die stof word makliker onthou omdat dit baie visueel is.

Trouens, jy kan vind dat diagramme of tekeninge van jou leerwerk makliker in jou geheue bly steek as bladsy en bladsye vol notas.

Nog ’n visuele metode is om jou te verbeel dat jy byvoorbeeld in jou tuin rondstap waar jy die verskillende voorwerpe op jou roete verbind met die feite in jou leerwerk. Gestel jy moet leer van die lewe van koning Tsjaka van die Zoeloes — en die voorwerpe op jou tuinroete is agteenvolgens ’n appelkoosboom, ’n tuinhuisie,’n tuinstoeltjie, ’n blom-akker, ’n hekkie en dan jou huis se stoep.

Onder die appelkoosboom visualiseer jy vir jou alles omtrent Tsjaka se geboorte. Selfs ’n tor wat onder die boom rondskarrel, kan in verband gebring word met, sê, die “torre” (gevoellose mense) wat Tsjaka weens sy buite-egtelikheid uit die gemeenskap verdryf het. In die tuinhuisie stel die paar doringrige rankrose die toordokters voor aan wie se sorg Tsjaka se ma hom toevertrou het.

So gaan jy voort en rekonstrueer jy die hele Tsjaka-verhaal deur dit aan bekende dinge in jou tuin te koppel — en eindig jy op die stoep waar ’n potplant (Dingaan) bo-op Tsjaka omval. (Tsjaka is deur sy halfbroer Dingaan vermoor).

Vir ’n volgende afdeling in die leerwerk  gebruik jy ’n heeltemal ander geografiese roete, byvoorbeeld die pad van jou huis af na die naaste kafee, met al die bakens tussenin, wat dan weer “kapstokke” word waaraan jy nuwe feite hang.

In die eksamensaal loop jy eenvoudig in jou gedagte terug op jou roete en onthou jy alles wat onder elke boom, langs elke struik en, sê, onderaan die lelie met die verlepte blare “gebeur” het.

Jy kan selfs verskillende leermetodes vir verskillende afdelings van jou leerwerk aanwend. Dié soort afwisseling kan help om die eenselwigheid — wat jy dalk as eentonigheid kan ervaar — te verbreek.

5. “Ek skat ek ken dit”

MOENIE bloot “skat” nie — toets jouself.  Sê elke afdeling van die werk wat jy geleer het, hardop vir jouself op — en wanneer jy oor enigiets twyfel, raadpleeg net weer vlugtig jou diagram of handboek. Doen dit oor en oor en oor totdat jy dit vlot ken en glad nie meer nodig het na die papiere te kyk nie. En kom later, byvoorbeeld die volgende dag, terug na die betrokke afdeling en “resiteer” dit nog ’n keer vir jouself.

Probeer onthou wat die onderwyser te sê gehad het oor sleutelafdelings in jou leerwerk en wat hy of sy daarin benadruk het.

6. “Daar’s hopeloos te veel wat ek moet onthou”

ORGANISEER. Onthou weer: inligting word des te beter in jou geheue bewaar as dit in georganiseerde raamwerk aangebied word waaruit jy dit stelselmatig met jou brein kan onttrek.

Maak opsommings van die hoofstukke en lê klem op die verband tussen die verskillende afdelings in jou leerwerk. Groepeer inligting waar moontlik in kategorieë of hiëragieë.

Om terug kom tot die beproefde geheuekaart-metode: gestel jy probeer die oorsake van die Eerste Wëreldoorlog leer. Horisontaal oor die boonste deel van jou kaart kan jy die name skryf van die vernaamste lande wat by die oorlog betrokke was.

Aan die linkerkant skryf jy nou belangrike kwessies en gebeurtenisse onder mekaar neer.  Daarnaas, in vierkantjies onder die verskillende lande, kan jy vervolgens die impak beskryf wat elke kwessie op elke land gehad het. Op dié manier kan jy die ingewikkelde geskiedkundige ontwikkelings soveel makliker in jou geheue vaslê.

7. “Ek het dit ’n minuut gelede nog geken”

’N MENS kan dit nie genoeg beklemtoon nie: hersien, hersien en hou aan om te hersien. Selfs as jy by die punt kom waar jy alles kan onthou, sal verdere studie verseker dat jy nie môre, oormôre sekere dele van jou leerwerk vergeet nie. Met ander woorde, ’n mens kan óórstudeer nie.

8. “Maar ek hou daarvan om te leer terwyl ek op my bed lê”

O, JA? Een kenner sê dit sit hom sowaar in die kooi — om die woordspeling te gebruik — dat leerders vandag nog só kan redeneer!

Dis nie net ’n lui manier van studeer nie, dis boonop gevaarlik. Sê nou jy raak die aand voor die eksamen op jou bed aan die slaap, met belangrike werk wat nog geleer moet word, en niemand maak jou wakker voor die volgende môre nie?

Maar dis nie al nie. Navorsers het ook vasgestel dat die plek voor jou tuislessenaar (of ’n tafel dan) strate beter is as enige ander studieplek.

Inligting word naamlik makliker onthou wanneer die omstandighede waarin ’n mens dit ingeneem het (dit geld die fisiese plek asook jou verstandelike, emosionele en fisieke gesteldheid) soortgelyk is aan dié in die eksamenlokaal. Hoe meer die omstandighede ooreenstem des te groter is die moontlikheid dat jy die leerwerk tydens die eksamen uit jou geheue sal kan oproep.

9. “Ek leer die heel beste in die uur of twee voordat ek eksamen moet gaan skryf”

NOOIT gesien nie! Om dan nog te wil leer, kan beteken jy dat bang is oor werk wat jy steeds nie ken nie — en die kans is eintlik goed dat jy jouself nou verder deurmekaar kan maak. Boonop beteken dit dat jy jou brein twee uur lank sal inspan plus nog miskien drie uur in die eksamenlokaal — vyf uur lank ononderbroke. Pleks dat jy uitgerus met die vraestel begin, is jy klaar suwwerig wanneer jy die eksamensaal binneloop.

’n Mens leer die heel beste wanneer jy, om dit so te stel, met verdrag studeer. Daarom is dit so belangrik om eintlik die hele jaar deur daagliks hersiening te doen van dit wat jy in die klas geleer het. Kortom, ’n mens onthou die beste wanneer jou leertyd oor ’n tydperk versprei is.

Maar natuurlik is studeer vir die eksamen meer intensief as in die res van die jaar. Begin dus met ’n uur of twee per dag sowat ’n week voor die eksamen en vermeerder jou studietyd namate die eksamen nader kom.

10. “Ek gaan die hele nag wakker bly totdat ek hierdie stuk werk ken”

WEER EENS: vermy verstandelike uitputting. Rus kort-kort vir kort rukkies terwyl jy studeer. Jou verstand moet uitgerus wees voordat jy eksamen skryf.

Wanneer jy ’n ruskansie benut, moet jy glad nie eens aan jou leerwerk dink nie. Dit geld ook vir die tydjie voordat jy die aand gaan slaap, Ontspan en skakel af, verstandelik en liggaamlik. Anders lê jy dalk ure lank wakker.

Dit is baie belangrik dat jy jouself voor ’n eksamen goed moet versorg! Eet goed, slaap goed en kry genoeg oefening.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie