“Mik altyd vir die maan! Selfs al haal jy dit nie, sal jy tussen die sterre beland…”  Dit is die woorde wat ek oor en oor gelees het op my Laerskool Eloff se toekeningsertifikate wat ek ontvang het toe ek klein was. ‘n Les wat my herhaaldelik gemotiveer het om elke keer so hoog as moontlik te mik, so hard as moontlik te probeer en so veel as moontlik te verwag.

Ek het in 2018 matrikuleer aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem waar ek ook as koshuiskind groot geword het. Hier het ek toegang gehad tot van die beste onderwysers in hul verskeie onderrigvelde en kon ek kennis inneem, nie net oor die kurrikulum nie, maar lewenslesse wat ek tot vandag toe nog by my dra. Die boublokke van die man wat ek besig is om te word, is in die hartjie van die Oos-Vrystaat gelê deur ‘n handjievol baie spesiale mense en twee ongelooflike ouers. Alhoewel die skool ‘n groot rol in die sukses van my opvoeding gespeel het, was dit die koshuis wat my hart gesteel het.

Na matriek het ek  aansoek gedoen by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom en  is ek reguit in die koshuis in. Ek is ‘n BSc Dierkunde en Mikrobiologie student en is ook ‘n baie trotse inwoner van Excelsior Manskoshuis. My studierigting vereis baie tyd agter die boeke, baie ure in die laboratorium en nog meer vertroue en geloof. Maar die voordeel wat ek het is om ‘n akademiese veld te betree waarvoor ek ‘n passie het. Elke handboek wat ek oopmaak leer my ‘n les en elke mikroskoop wat ek aansit gee my insig.

Noordelike Helpmekaar Studieleningsfonds se befondsing het dit nie net vir my moontlik gemaak om my akademiese horison te verbreed nie, maar deur op universiteit te kan wees het ek die ongelooflikste mense ontmoet, my beste sport gespeel en werklik besef watter tipe man ek graag eendag wil wees. Danksy die Here se genade en my ouers se ondersteuning is ek in ’n posisie om al my jare se werk op skool, en nou aan die universiteit, te belê  om myself so goed as moontlik voor te berei vir die pad vorentoe. Sonder enige twyfel is hierdie net die begin van my verhaal.

Ek wil Helpmekaar Studiefonds hartlik bedank vir die deure wat hulle in my en baie ander jongmense se lewens oopgemaak het, asook die merietebeurs wat hulle toestaan. Mag julle aanhou om die jeug se toekoms te verryk soos wat julle al vir soveel jare doen.