In graad 10 het ek gaan “beroepswaarneming” doen by ‘n Arbeidsterapeut en binne 10 minute het hierdie  besondere mediese rigting my gekies. Dit was al wat ek wou doen. Ek het geen Plan B gehad nie. 

Nadat ek in 2017, my matriekjaar aan Hoërskool Randburg, nie keuring gekry het vir Arbeidsterapie nie, moes ek in 2018 Grondslagonderwys studeer. Ek het weer aansoek gedoen en is toe wel gekeur, te danke aan my 7 onderskeidings wat ek in die jaar behaal het.

Ek dra nou met trots die groen “paddapakkie” uniform as ‘n Eerstejaars Arbeidsterapie student aan die Universiteit van die Vrystaat.  Ek geniet my kursus terdeë, veral die kreatiewe vakke soos Houtwerk.  Ons het ook al die Springfontein Gemeenskap besoek waar ek besef het hoe Arbeids -terapie daartoe kan bydra om ‘n gemeenskap op te hef. Elke week interesseer die kursus  my net meer en meer.  

Ek sien daarna uit om eendag die wyer Arbeidsterapie veld aan te durf. Die aanhaling “A doctor adds days to life, but an Occupational Therapist adds life to days” inspireer my om eendag die lig aan die einde van die tonnel vir mense te wys.

Die ondersteuning wat ek van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds ontvang, word met ‘n warm hart waardeer.  Ek voel geëerd en dankbaar om in aanmerking te kom vir die meriete toekenning.