Ses jaar gelede, in 2013, het ek aan die Hoërskool Monument met 8 onderskeidings gematrikuleer. Die volgende jaar, in 2014, kon ek te danke aan die Noordelike Helpmekaar Studiefonds, met my mediese studies aan die Universiteit van Pretoria begin.

Ek is tans in my finale jaar. Met die Here se genade het ek tot dusver baie goed akademies presteer. Alhoewel ek nog nie al my modules voltooi het nie, verwag ek tot dusver om in 3 van my 5 voltooide modules met lof te slaag. Dié meriete-toekenning is ʼn onverwagse verrassing en motiveer my om aan te hou fokus op my studies, veral nou dat die eindpunt  in sig is.Ek is in die mediese manskoshuis, Olympus, waar ek al 6 jaar spandeer het. Ek het voorheen gedien op die koshuis se kultuur-, jool- en sosiaal komitee. Ek het ook die koshuis in skaak verteenwoordig. In my vrye tyd probeer ek myself fiks hou deur gereeld te draf en fiets te ry. Ek spandeer ook baie van my tyd met my vriende en saam met my perd. Wanneer ek die kans kry werk ek ook daaraan om ‘n nuwe taal, Duits, aan te leer. Ek is baie dankbaar vir die voorreg wat ek het om medies te studeer, en is ontsettend dankbaar vir die Helpmekaar Studiefonds wat dit vir my moontlik maak om te studeer. Alhoewel medies baie veeleisend is, is dit definitief bevredigend.