Ek is tans 19 en n trotse inwoner van Patria Manskoshuis, besig met my tweede jaar in Elektromeganiese Ingenieurswese op die Puk en dit is vetpret. Die koshuislewe is lekker – n klomp kêrels wat altyd sorg dat daar iets is om oor te lag. Die studentelewe is lekker en die Varsity Cup- rugby was waaragtig lekker gewees, veral toe ons in die semi-finaal en finaal vir die Kapenaars gewys het dat die Puk dié keer Hollands is! Dis lekker op die Puk.

Met dit gesê, is die afgelope jaar en n half hoegenaamd nie net pret gewees nie, inteendeel. Die aanvanklike aanpassing om uit die huis te wees, op my eie voete te moet staan en die ongelooflike pas en volume van die akademie het my vinnig tot op die punt gebring waar ek wou opskop. Die druk was net te veel. Al waaraan ek kon dink was hoe op aarde ek die eksamen sou deurkom en dit het tot ongelooflik baie stres gelei – geen eetlus en slapeloosheid. Dit is toe hier waar God ingegryp het. ‘n Oom in die kerk het my die eenvoudige advies gegee om die uitkoms in God se hande te los. En dit is toe presies wat ek gedoen het. Ek het die Here daagliks vir wysheid begin vra sodat ek net elke dag my deel kon doen en toe die uitkoms(eksamenuitslae) aan Hom gegee. En wat n verligting was dit nie! Sou ek dop, dan weet ek Ingenieurswese is nie vir my nie, want ek het gedoen wat God van my verwag (dissipline en harde werk), terwyl die uitkoms in Sy hande is. In n oomblik (ek is ernstig) het al my stres verdwyn en kon ek met rustigheid en bonatuurlike vrede my studies dag vir dag aanpak.  Nodeloos om te sê, ek het toe nie gedop nie en hier staan ek n jaar later besig met my tweede jaar in Ingenieurswese met dieselfde bonatuurlike rustigheid en vrede wat my lewe en studies oorheers. En dit alles is te danke aan God.

God is lewendig en wil betrokke wees in ons alledaagse lewe, as ons Hom maar net toelaat en dinge op Sy manier doen – soos met die studies.

Laastens, wil ek graag die Noordelike Helpmekaarstudiefonds hartlik bedank vir hul finansiële ondersteuning wat my studies tot op hede moontlik gemaak het. Dit is n voorreg om te kan studeer en sonder instansies soos hierdie sal dit vir ‘n menigte jong mense nie n moontlikheid kan wees nie.