Maricia SmithEerste wil ek die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds bedank vir die finansiële ondersteuning. Dit het my in staat gestel om van meer geleenthede gebruik te kan maak.

Ek het in 2014 by die Hoërskool Linden in Johannesburg germatrikuleer en 5 onderskeidings gekry.

In 2015 het ek by Wits B.A. (Regte) begin studeer en in Maart 2018 (met ʼn groot glimlag) graad gevang. Ek is tans besig met LL.B. en hoop om einde  2019 klaar te maak.

In my eerste jaar het ek die toekenning gekry as beste nuweling-beoordelaar in die debatstreek Gauteng. Ek het ook op nasionale vlak deelgeneem en is blootgestel aan vele nuwe idees en sprekers.

In dieselfde jaar het ek gekwalifiseer vir die internasionale vereniging Golden Key, terwyl ek in my tweede jaar aangestel is as adjunk-hoofbeoordelaar van Wits se debatspan, verantwoordelik vir die opleiding van nuwe studente-beoordelaars.

Wanneer ek nie studeer nie, bestee ek my tyd in Wits Inala Forum se groentetuin. Dit het meegebring dat ek in my derde jaar verkies is tot president van hierdie studenteorganisasie vir 2018.

Ons verbou vars groente wat geskenk word aan Wits se voedselbank, wat  maandeliks sowat 4 000 etes verskaf aan studente wat nie elke dag toegang tot gesonde kos het nie.