Vanjaar is my laaste jaar van studie en ons werk meestal klinies by verskillende instellings. Dit is soms baie uitdagend en intimiderend met tye, maar ek geniet elke oomblik daarvan en leer elke dag iets nuut wat ek in die toekoms kan gebruik. Fisio is vir my ‘n baie spesiale beroep om in te wees aangesien jy regtig kan sien hoe jy mense se lewens aanraak en hoe bevredigend dit is as jy iemand kan help om beter te voel.

Ek geniet die interaksie met verskillende mense en elke persoon se storie is uniek- soms kan ‘n pasiënt mens se dag ophelder deur die vriendelikheid en geselskap wat hulle bied. Ek het nou al in ‘n verskeidenheid blokke gewerk, elkeen ‘n ander veld in fisioterapie en die een wat vir my nog steeds uitstaan is sport. Ek geniet die kreatiewe denkproses wat mens in sport moet gebruik as dit kom by rehabilitasie planne en om te bepaal hoe een besering met die res van die liggaam se bewegings verband hou- dit is ‘n veld wat vir my baie interessant is en mens altyd op jou tone hou. Ek streef daarna om eendag elke pasiënt holisties en met baie omgee te behandel sodat elkeen voel hulle het die beste moontlike behandeling gekry.

Ek is baie dankbaar vir die Helpmekaar-Studiefonds wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie passie en droom van my ‘n realiteit te maak.