KarinaHoewel dit al voel soos ʼn leeftyd wat verby is, het ek ’n skamele twee jaar gelede gematrikuleer – aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem. Dit is hier waar ek my liefde vir verbruikerswetenskappe ontdek en besluit het om verder daarin te studeer.

Nou is ek 2de jaar by die NWU, Potch-kampus en kom elke dag nader aan my graad, B.Sc. verbruikerwetenskappe (met ondernemingsbestuur).

Dit is ook hier waar ek my passie vir hokkie verder uitleef deur aan die koshuisligas deel te neem. Ek beplan om die beste punte wat ek moontlik kan, te behaal, waarna ek ’n produkontwikkelaar wil word. Wanneer mense eendag eksotiese gegeurde melkdrankies geniet, sal ek tevrede wees!

Soos almal altyd sê, jou studentedae is die beste tyd van jou lewe, maar wat hulle vergeet om by te voeg, is dat dit ook van die dae is waar ’n mens ontdek wie jy is en waarvan jy gemaak is.

Ek wil net dankie sê aan Helpmekaar wat aan my hierdie geleentheid gegee het, om nie net my akademiese kennis te verbreed nie, maar ook lewenswysheid op te doen. Ek hoop dat ek dit eendag sal kan gebruik om iemand anders se drome te help bewaarheid – en om die samelewing ’n beter plek te maak.