Drie jaar gelede moes ek ‘n loopbaankeuse maak. Watter kant toe gaan ek ? Gaan werk ek? Gaan ek studeer? Het ek die finansies om te gaan leer? Aande se wakker lê en wonder het verby gegaan vir my en my moeder.

Ek was op skool baie lief vir sport en wou baie graag my kennis verbeter in die verband. Vir dit om te gebeur moes ek gaan studeer.

Een oggend is ons deur  ‘n dame in ons dorp ingelig oor die Noordelike Helpmekaar-Studie-fonds. Ons het baie daaroor gaan dink en daaroor gebid en ons het toe besluit om my aansoek in te stuur. Nie te lank daarna nie is ek goedgekeur.

Op die oomblik is ek n derdejaar-student met ‘n baie dankbare hart. Die hulp wat ek ontvang het en nog steeds ontvang van die NHSFonds is net ‘n wonderwerk en ek is nie ‘n dag spyt oor my keuse nie. Ek wil net baie dankie sê aan hulle vir die finansiële hulp, asook vir hulle vriendelike diens.