Ek het in 2017 matrikuleer aan die Hoërskool Menlopark. Ek was baie betrokke by talle sportsoorte tydens my skoolloopbaan en het daarom besluit om in te skryf vir die BSci-sportgraad aan die Universiteit van Pretoria. Ek was nog altyd vas oortuig daarvan dat ek ‘n verskil in die samelewing gaan bewerkstellig en tydens die eerste jaar van my universiteitsloopbaan het ek besef dat my belangstelling minder by die ligaamlike welstand van mense lê en veel eerder by die ekonomiese bemagtiging en beskerming van mense. Daarom het ek besluit om in 2019 te begin met my LLB- graad aan die Universiteit van Pretoria. 

Die jaar 2020 was ‘n groot uitdaging vir ons gesin nie net omdat die Covid-19 pandemie op ons neer gedaal het nie, maar my suster het ook begin swot aan die Universiteit van Pretoria. Die Noordelike Helpmekaar Studie-fonds het tot ons gesin se redding gekom deur die finansiële las wat op my ouers geplaas is, te verlig. Die wete dat ons gesin nie oor finansiering hoef te bekommer nie en ook die ondersteuning wat ek in hierdie tyd van die NHSF ontvang het, sal ek altyd voor dankbaar wees. Dit is as gevolg van hierdie ondersteuning van die NHSF dat ek vandag hier kan staan as ‘n trotse finale-jaar LLB-student wat ywerig wag om haar stempel op die samelewing af te druk.