In 2016, het ek matrikuleer en besluit om daarna verpleegkunde te gaan studeer. Ek het begin belangstel in verpleegkunde na ‘n ongeluk waarin ek in 2014 was. Ek het baie te doene gehad met die mediese wêreld en het toe besluit verpleegkunde is wat ek wil gaan studeer. Ek besef net weer hierdie rigting is my roeping. Dit is ‘n groot voorreg om te kan studeer in die rigting waarvoor mens ‘n passie het.

Ek is tans in my vierde jaar by NWU Potchefstroom. Alhoewel my vierde jaar nogal uitdagend is, leer ek so baie. Tans is ek besig om verloskunde te leer en ek het besef dat hierdie rigting my passie is. Ek oorweeg dit baie sterk om na my gemeenskapsjaar, in gevorderde verloskunde te spesialiseer, asook in NICU wat “Neonatal ICU” is.

Vanjaar het my baie geleer van hoe mooi die begin van lewe is en hoe groot verskil ek as ‘n verpleegsuster kan maak vir my pasiënte en hulle pasgebore babas. Dit is vir my die grootste voorreg om deel te kan wees van so ‘n spesiale wonderwerk-ervaring.

Te danke aan die Here en aan Noordelike Helpmekaar-Studiefonds, kan ek my droom volg en elke oomblik van my studie tydperk ten volle uitleef. Weer eens baie dankie!