ETIESE GEDRAG DEURSLAGGEWEND VIR AKADEMIESE, LOOPBAANSUKSES

In die lig van ’n tendens onder werknemers en maatskappydirekteure om hul kwalifikasies te vervals, beklemtoon Regine le Roux, besturende direkteur van die reputasiebestuursgroep, Reputation Matters, die noodsaaklikheid van etiese gedrag, jou hele lewe lank. Dít bepaal of jy in diens geneem gaan word…of nie.

V: Waarom is akademiese integriteit en eerlikheid deurslaggewend vir ’n suksesvolle loopbaan?

A: ’n Akademiese agtergrond dra by tot ’n suksesvolle loopbaan, want dit stel jou in staat om krities en strategies te dink en te werk. Te meer, akademiese integriteit en eerlikheid is noodsaaklik vir ’n suksesvolle loopbaan want dit vorm die grondslag van jou aansien (reputasie) én sal ’n reuse-impak op jou toekomstige loopbaan hê.

Jou aansien en goeie naam sal bepaal of jy in diens geneem kan word. Organisasies asook maatskappye wil mense in diens neem wat hul waardes versinnebeeld; mense wat hul handelsnaam waardig is en kan verteenwoordig.

V: Wat is die ‘goue riglyne’ om akademiese en loopbaanintegriteit te handhaaf?

A: Die sleutel tot etiese gedrag is om bepaalde waardes vir jou te stel. Hierdie waardes sal jou lei in jou besluitneming en gedrag; met wie jy sake wil doen en HOE jy dit gaan doen.

Een van die goue riglyne is integriteit – om die regte ding te doen selfs al sien niemand dit nie. Derhalwe, om jou waardes met akademiese en loopbaanintegriteit te integreer, moet jy

  • ’n Stel waardes hê wat jou in besluitneming en gedrag lei;
  • Nooit jou waardes in gedrang bring nie.

V: Watter vorms van onetiese gedrag kom die mees algemeen onder studente en in die werkplek voor?

A: ’n Vriendin van my wat ’n kundige is op die gebied van etiese gedrag stel dit baie duidelik: jy is óf eties óf nie. Jy kan nie ’n ‘klein bietjie’ eties wees nie.

Jy is nie eerlik teenoor jouself as jy jou waardes in gedrang bring nie, hoe gering ook al.

Onder studente kom plagiaat of die gebrek aan korrekte verwysings of erkenning aan outeurs meermale voor, terwyl oneerlikheid oor kwalifikasies en werkondervinding weer toenemend in die werkplek voorkom.

V: Hoe moet ’n student te werk gaan wanneer hy/sy iets oneerlik gedoen het?

A: In enige geval moet dit so gou moontlik aangespreek word. Trek die pleister af! As jy nie die waarheid praat nie, sal jy uitgevang word en die lewe vir jou op die duur baie moeiliker word.

Erken jou fout en BIEG – sonder om met verskonings te kom.

En kommunikeer die stappe wat jy gaan doen om die situasie reg te stel. Doen dit deur daadwerklike optrede, nie net praatjies oor hoe jy iets gaan doen nie. Wys ook baie duidelik wat jy vorentoe gaan doen om so iets te vermy.

Regine le Roux

V: Watter lesse kan uit misstappe en onetiese gedrag geleer word?

A: ’n Mens se toekomstige akademiese en werkloopbaan kan negatief geraak word en ’n ernstige impak op jou toekoms hê.

Begrip dat ’n mens se aansien om persepsies wentel, is noodsaaklik. Dit duur lank om ’n bewese, stewige baanrekord op te bou – net één misstap en dis daarmee heen.

Om jou goeie naam weer op te bou, is nie onmoontlik nie, maar dit verg tyd en geld; hulpbronne wat elders gebruik kon word, pleks van ’n gemors rondom jou aansien op te klaar.

V: Noem ’n paar bekende gevalle – plaaslik en/of internasionaal – waar studente/werknemers/bekendes/beroemdes ’n hoë prys vir oneerlikheid en onetiese gedrag betaal het.

A: Hier is ’n paar voorbeelde:

Five years in jail for lying on your CV: just don’t do it | Life (news24.com)

5 Executives Who Lied on Their Resume (and Got Caught) | The Muse

10 People Who Were Publicly Shamed for Lying on Their Resumes (businessinsider.com)

V: Wat is die hoogste prys (tronkstraf?) wat opgelê kan word?

A: Ek weet nie presies nie, maar sien hieronder.

Ramaphosa’s adviser Thabi Leoka could face jail time (iol.co.za)

According to the Qualification Framework Amendments Act, which was passed last year, Leoka could be facing five years in jail or be subject to a fine if she is found to have lied about her qualifications.

The law states: “If a person is found to have falsified their (sic) qualifications, they face jail time, a fine or both.”

Hier is my mening nav die Thabi Leoka-geval: Businesswoman’s Blog: Comment on Thabi Leoka (dynamicbusinesswoman.blogspot.com)

V: In watter mate kan die toenemende gebruik van Kunsmatige Intelligensie (KI) ’n impak hê op onetiese gedrag in die onderwys en/of werkplek?

A: In ’n baie groot mate. Dit is waarom al hoe meer druk op sosiale-media-platforms geplaas word om duidelik aan te dui of iets met behulp van KI geskep is. Ek glo dit kom selfs meer dikwels voor in die akademie, dit is waarom beleid, prosedures en bestuurstrukture absoluut noodsaaklik is hoe om dit te gebruik en die nodige erkenning te gee. Gevolge moet daar eweneens duidelik uitgestippel word as daar nie voldoening is nie.

V: Hoe kan dit voorkom word?

A: Dit gaan alles oor opleiding. KI is nuut, maar as studente opgelei word om dit as ’n hulpbron soos PowerPoint, Excel, Word, ens te gebruik, kan dit hulle toerus om hul werk te verbeter pleks van plagiaat te pleeg.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie