In 2015 matrikuleer ek aan Hoërskool Zwartkop as Dux Leerling van die skool, met belangstellings so wyd versprei soos die Wes-Kaap van die Wildtuin.

So het ek besluit om Regte te studeer aan die Noord-Wes Universiteit en voltooi ‘n BA Regte graad met Taal en Sielkunde in 2018 en gaan voort met LLB- studies in 2019. In hierdie tyd het ek soveel lewenslesse van onmeetbare waarde geleer van ons land, die mense daarin en hoe om feitlik enigiemand te intimideer met vakterminologie.

Ek is egter ongelooflik dankbaar vir die Noordelike Helpmekaar-studiefonds wat dit vir my moontlik gemaak het om  my wye belangstellings te ondersoek en uiteindelik verder te studeer in tale en Kunsgeskiedenis. Sonder hierdie Fonds se hulp sou ek nie  my ware passie kon ontdek en realiseer vir my toekoms nie. Ek is elke dag dankbaar dat ek nog meer kan leer en ervaar.

Na afloop van my voltydse studies beoog ek om ‘n NGOS te voltooi en sodoende die onderwys te betree sodat ek die geleentheid kan hê om by elke kind die liefde vir kennis en leer te kweek wat soveel opvoeders in my geplant het.