Ek het in 2013 met agt onderskeidings aan die Hoërskool Randburg gematrikuleer. Ek is nou sesde jaar medies aan die Universiteit van Pretoria. Ek het uiteindelik die laaste jaar van my studies bereik en elke dag is ek ‘n stappie nader aan my doelwit. Ek het verlede jaar al begin dink aan moontlike spesialisering soos in trauma en plastiese chirurgie.

In my vrye tyd geniet ek dit om te skilder en te lees. Ek hou ook van “gaming” en om saam met my vriende te kuier.

As uitruilstudent in Duitsland het ek gesien dat daar ‘n hele ander wêreld bestaan, wat ek baie graag sal wil verken. Deur die meriete toekennings wat ek gespaar het, kon ek aan die einde  van verlede jaar op ‘n Contiki-toer gaan na Europa; dit was ‘n fantastiese ervaring en ek het elke oomblik daarvan geniet. My huidige doelwit is om na my studies in Suid-Korea te gaan werk. Ek het totaal verlief geraak op dié kos en kultuur. Ek is ongelooflik opgewonde om die nuwe avontuur te begin, maar op die oomblik kom my studies eerste.   Dit was ‘n baie aangename verrassing om ‘n vyfde keer ‘n meriete toekenning van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds te ontvang. Baie dankie daarvoor, asook vir die ondersteuning met my studies. Ek waardeer dit opreg!