KLETSBOT HET DIE WÊRELD AAN DIE GONS …maar loop lig vir ‘donker kant’

Sedert die bekendstelling van ChatGPT (Generative Pre-trained Transformer) in November verlede jaar, het nuus oor dié kletsbot nie net soos  ’n veldbrand versprei nie; ChatGPT se webtuiste is, en word steeds, koorsagtig besoek. In Januarie vanjaar, het ChatGPT-gebruikers reeds die 100 miljoen-kerf oortref, met nie minder nie as 13 miljoen aktiewe daaglikse gebruikers gedurende dié maand.

Swerf jy rond op Google, kom jy om elke hoek en draai af op ’n artikel/meningstuk, onder meer oor wat al met dié blikbrein vermag is, byvoorbeeld sy gedetailleerde en goed geartikuleerde antwoorde oor baie kennisdomeine heen; voor- en nadele wat al geïdentifiseer is én verwagtinge oor die bot se potensiaal en rol vorentoe op die gebied van Kunsmatige Intelligensie (KI). Die ongelyke feitelike akkuraatheid daarvan is byvoorbeeld as  ’n beduidende nadeel geïdentifiseer.

Vir die oningewydes: Volgens Wikipedia is ChatGPT  ’n kunsmatige-intelligensiekletsbot wat op 30 November 2022 as ’n prototipe deur die KI-navorsingsmaatskappy, OpenAI, bekend gestel is. “Dit is gebou bo-op OpenAI se GPT-3.5-familie van groot taalmodelle en is fyn ingestel met beide toesig- en versterkingsleertegnieke. Dit kan ook in Afrikaans kommunikeer.

“Terwyl die kernfunksie van ’n kletsbot is om ’n menslike gespreksgenoot na te boots, het joernaliste ook kennis geneem van ChatGPT se veelsydigheid en improvisasievaardighede. Dit sluit in sy vermoë om rekenaarprogramme te skryf en foute op te spoor; musiek, telespele, sprokies en studente-opstelle te komponeer; toetsvrae te beantwoord (soms, afhangend van die toets, op ’n vlak bo die gemiddelde menslike toetsing); ’n Linux-stelsel na te boots; ’n hele kletskamer te simuleer; speletjies soos tik-tak-toe te speel; en om ’n OTM te simuleer,” verduidelik Wikipedia.

“In vergelyking met sy voorganger, InstructGPT, poog ChatGPT om skadelike en bedrieglike reaksies te verminder…ChatGPT se opleidingsdata sluit bladsye en inligting in oor internetverskynsels en programmeertale, soos bulletinbordstelsels en die Python-programmeertaal. In teenstelling met die meeste ander kletsbotte, onthou ChatGPT vorige interaksie wat in dieselfde gesprek daaraan gegee is. Joernaliste het voorgestel dat dit ChatGPT sal toelaat om as ’n persoonlike terapeut gebruik te word. Om te verhoed dat aanstootlike uitsette aan ChatGPT aangebied en geproduseer word, word navrae deur ’n modererings-API gefiltreer, en moontlike rassistiese en seksistiese aansporings word van die hand gewys,” aldus Wikipedia.

KI kom ’n lang pad

“In der waarheid is KI nie nuut nie, dit bestaan al jare lank. Die tegnologie om die mens in staat te stel om sekere dinge op die rekenaar te doen deur groot volumes data te bekyk, was altyd daar. Maar dit het eintlik nie gebeur nie omdat die rekenaar nog nie kragtig genoeg was nie, en die hele kwessie van datawetenskap nog nie goed gevestig was nie. Die tegnologieë van die Vierde Industriële Rewolusie het KI nuwe lewe gegee,” verduidelik prof Basie van Solms, navorsingsprofessor, kuberveiligheid in die Sentrum vir Kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg, en voormalige direksielid van NHSF.

Prof Basie von Solms (foto: RSG)

“Met die koms van ChatGPT is dit egter die eerste keer dat Jan en alleman met KI gekonfronteer word. En nou begin mense vrae vra oor dié nuwe fenomeen, en dít is wat wêreldwyd belangstelling wek. In die algemeen, het mense voorheen nie geweet dat KI ingespan word, byvoorbeeld om nuwe medisyne of behandelings te ontwikkel nie.

“Een van die uitstaande dimensies van KI is dat massiewe dataversamelings vinnig ondersoek kan word en deur middel waarvan die rekenaar as’t ware ‘geleer’ kan word om algoritmes te bou wat ’n magdom toepassings kan bied. Neem byvoorbeeld die mediese wetenskap: met 10 miljoen mense se data oor die siektes waaraan hulle ly en die medisyne wat hulle gebruik, kan die rekenaar vasstel watter mense gesond geword het, en watter nie. Só kan daar bepaal word watter medisyne werk en watter nie. Insgelyks, kan inligting ingewin word om nuwe medikasie te ontwikkel.

In die landbou help KI byvoorbeeld om te bepaal watter gewasse groei in sekere omstandighede en watter nie. Dit is nog altyd gedoen, maar nou kan dit met baie groter massas data én vinniger gedoen word, terwyl die vermoë om die menslike brein se denkproses na te maak, ook beduidend ontwikkel het. En soos die tegnologie ontwikkel het, het ons begin om dit te beter te verstaan en toenemend te gebruik,” sê prof Von Solms.

Terselfdertyd begin al hoe meer lande om KI met wetgewing te reguleer. “Die hart van enige intelligensiestelsel is algoritmes en dít kan bevooroordeeld wees. Hoe weet ’n mens dat die algoritmes regverdig en deursigtig is en dít is van die aspekte waaroor lande begin wette maak?”

Meer gesofistikeerd

“Anders as soekenjins wat bloot inligting verskaf op grond van ’n woord of twee wat dit ‘gevoer’ word, is ChatGPT uniek in soverre dit inligting bymekaar kan sit en met ’n aflewerbare produk vorendag kan kom. En dit is maar net die begin… daar gaan in die toekoms al hoe meer soortgelyke produkte kom wat ook meer gesofistikeerd gaan wees.

“Gestel jy vra die bot vir ’n artikel oor kaas en ’n resep. Hy het nie ’n idee wat ’n resep óf wat kaas is nie, maar hy gaan soek nou deur ’n massa artikels daaroor, op grond waarvan hy meer uitvind oor wat mense oor kaas en resepte te sê het. Daaruit begin hy inligting bymekaar sit wat oplaas tot ’n sinvolle artikel lei. Mense wat hier ook ’n belangrike rol speel, is taalpraktisyns en -wetenskaplikes wat weet hoe taal ‘aanmekaar gesit’ word, want die bot moet ook weet hoe ’n mens woorde inspan om ’n sinvolle boodskap of artikel te skep. Dit is ’n leerproses vir die bot en word ook iewers in die proses ingebou,” verduidelik prof Von Solms.

Onderwys

Terwyl nuwe tegnologieë ook in verskeie fasette van die onderwys nuttig ingespan kan word, onder meer om leerlinge se skoolvordering en aanleg te bepaal, is daar egter ook ’n ‘donker kant’ wat in gedagte gehou moet word, maan prof Von Solms.

Op onderwysgebied sien hy “groot gevaarligte” flikker in soverre studente en leerlinge take met behulp van nuwe tegnologie doen. “Nie dat dit vreemd is nie: hulle kon al lankal take ‘koop’ wat deur iemand anders geskryf is; maar dit gaan heel waarskynlik net toenemend op die voorgrond wees, wat gaan meebring dat onderwysers en dosente al hoe meer in staat sal moet wees om dit te kan herken. Nou skryf hulle ’n KI-program om uit te vind of ’n taak deur ’n rekenaar geskryf is…en dit raak baie kompleks.

Onderwysers en dosente sal nie meer net ’n taak op sigwaarde kan beoordeel nie; hulle sal vrae moet begin vra en begin ondersoek instel om te bepaal of dit die leerling/student se eie werk is of nie. Dit, op sigself, is moeilik want die tegnologie gaan al hoe meer gesofistikeerd raak.

“Akademici spook ook al jare lank met plagiaat; soos KI, is dit niks nuuts nie. Studente soek byvoorbeeld inligting op die internet oor ’n bepaalde onderwerp in ’n stuk of tien verskillende verslae en ‘spoeg en plak’ dit dan in hulle opdragte. Maar ten minste doen hulle terselfdertyd ook sélf ’n bietjie werk.

Werkplek

Toe rekenaars etlike jare gelede hul verskyning in die werkplek gemaak het, was daar allerweë bespiegelings dat ’n groot aantal mense hul werk gaan verloor. Hoewel sommige roetinewerk wel deur rekenaars oorgeneem is, het die koms van rekenaars, teen die verwagting in, heelwat meer werkgeleenthede en -kategorieë geskep, sê prof Von Solms.

“Universiteite, die werkplek, en veral professionele organisasies sal ernstig moet begin kyk in watter mate KI ’n impak op hul dienste en werk gaan hê. Die mediese wetenskap en diagnoses gaan ook verander. Hoewel mense altyd ’n rol gaan speel, kan KI en Vierde Industriële Rewolusie-tegnologieë groot voordele bring. Met die nodige infrastruktuur en betroubare verbinding, kan ingewikkelde hartoperasies met behulp dié tegnologieë in die platteland gedoen word, terwyl die persoon wat dit uitvoer, in Johannesburg of Kaapstad is. Insgelyks, sal dit algemene praktisyns ook in staat stel om vinniger akkuraat te diagnoseer.

Vorentoe

Prof Von Solms is “uiters bekommerd” oor die mate waarin gevorderde KI kubermisdaad gaan bevorder. “Ons gaan al hoe meer gesofistikeerde kuberaanvalle sien, én namate die skeidslyn tussen realiteit en die virtuele wêreld toenemend verdof, sal ons dit kwalik kan onderskei. Die menswetenskappe sal ernstig hieroor moet besin.

“Feit is: al die moderne tegnologieë word reeds deur kubermisdadigers gebruik om dit geloofwaardiger vir internetgebruikers te maak en vir hul slenters en strikke te val. Kubermisdadigers se hoofdoel is om by jou bankrekening uit te kom en jou geld te steel. Reeds in hierdie stadium gedy tegnieke soos uitvissing (phishing)om dié doel te bereik, maar in die toekoms gaan aspekte soos oudio- en videovervalsings (soos deur jou finansiële adviseur se persona en stem te gebruik om byvoorbeeld jou geld na ’n ander rekening te laat oorplaas) ook toenemend ingespan word om verbruikers om die bos te lei.

“Die groot vraag is: Hoe gaan mense kan saamleef met rekenaars wat net soveel weet as hulle? Hoe gaan mense onderskei tussen realiteit en virtualiteit? Hoe gaan kinders leer en ontwikkel as hulle alles kry wat hulle wil hê? Hoe gaan jy self jou denke ontwikkel?

“Dit het ons ’n eeu of meer gevat om te erken rook is skadelik vir jou gesondheid. Hierdie hele fenomeen van die internet is maar ’n paar dekades oud. Wat gaan ons oor ’n eeu uitvind oor die impak van tegnologie op die ontwikkeling van die mens se brein? Net tyd sal leer.”

Wees bedag

“Tegnologie is ’n gawe van Bo. Ons moet dit sover moontlik optimaliseer want dit is vir ons gegéé en vergemaklik ons lewe. MAAR ons moet besef dat tegnologie ’n goeie én ’n donker kant het. Aan die een kant help tegnologie om kanker te genees, maar aan die ander kant word dit ook ingespan om atoombomme te maak…en wapens word misbruik om mense dood te maak. Ons sal moet leer om toenemend te kan onderskei tussen goed en sleg. Ons moenie naïef wees en dink die internet/kuberruim is veilig nie; ons moet kritiese denkprosesse ontwikkel,” beklemtoon prof Von Solms ten slotte.

Die menings vervat in WERD OM TE WEET is die van die outeur/bron en nie noodwendig die van die Noordelike Helpmekaar Studiefonds nie