“Almal wil bo-op die berg woon, maar al die geluk en groei vind plaas terwyl jy dit bestyg.” – Andy Rooney

Om myself uit te daag, motiveer my. My oë bly op God en die bergpieke gerig. ‘n Mens se krag en deursettingsvermoë groei in tye van jy dink jy kan nie meer nie, maar steeds hou jy aan. My lewe is ‘n wonderlike reis vol uitdagings wat ek elke dag ten volle aangryp. Ek kyk nooit terug nie en fokus te alle tye op die goeie.  Ek is deeglik bewus daarvan dat daar geen hysbak na sukses is nie, slegs trappe wat jy elke dag moet klim.

Nadat ek in 2017 aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het, begin ek my studies by die NWU-Potchefstroomkampus. My nuwe uitdaging was Baccalaureus Scientiae – aktuariële wetenskap, wat nou my nuwe Everest is. Ek is tans besig met my tweede studiejaar en al geniet ek elke oomblik, leer ek ook baie hard.

Skaak is my passie. Ek speel nog aktief skaak en het in Desember 2018 vir Tshwane o/20A gespeel. Ek deel my passie met ander en is ondervoorsitter van die NWU-  skaakklub en het ook my eie skaakklub,  Lets Move, waar ek ander leer en ondersteun om ook die sport te geniet. Ekrig Potchefstroom Gimnasium en Girls High se skaakspanne ook af.

Net omdat ek nie heeltyd tussen vier mure wil sit nie, hardloop ek ook en het in 2018 Noordwes-kleure vir landloop verwerf.

Baie van hierdie sou moeilik bereikbare drome gewees het, as dit nie was vir die lening en nou ook die merietetoekenning wat ek ontvang het van Noordelike Helpmekaar-studiefonds nie. Daarvoor is en sal ek ewig dankbaar wees. Baie dankie vir almal wat betrokke is by die fonds.