Ek het matriek geslaag deur Brainline in 2019. Daarna het ek die Covid-jare gebruik om werksondervinding op te doen en te besluit wat ek met my lewe wil doen; geleer om mens te wees, nie ‘n skolier nie. My kinderjare was maar ontstuimig en ek het elke graad deurgeskuur, dus het dit my ‘n lang tyd, introspeksie en baie werk gevat om weer myself te word.

In 2021 het ek besef dat ek ‘n passie het om mense te help. ‘n Baie ou statistiek vertel ons dat twee uit drie huwelike in ‘n egskeiding eindig, en ons weet almal dat as die olifante baklei, word die gras beskadig.

Ek het besluit om eers ‘n kort kursus te doen in sielkunde, om doodseker te maak dat die aanlegtoetse nie vir my gejok het nie. Na verskeie probeerslae by die banke vir ‘n studielening, en my ma amper raadop was, het sy van die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds en tannie Joan afgekom terwyl sy desperaat gesoek het op die internet. Die aansoek was laat, maar suksesvol, en in Januarie 2022 het ek ingeskryf by die South African College for Applied Psychology (SACAP) vir ‘n “Higher Certificate in Counselling and Communication”.

Die eenjaar-kursus was ‘n sukses, en aan die einde van 2022 het SACAP my goedgekeur om vir die Bachelor of Applied Social Science (Majoring in Psychology and Counselling) te studeer. Weer eens het die Helpmekaar-Studiefondse in die Noorde en die keer die Kaap ook tot my redding gekom en my gehelp om die studielening te kry! Ek besef dat dit ‘n voorreg is om ‘n tersiere opleiding te ontvang, en is dankbaar teenoor die Helpmekaar-Studiefondse wat my help om my droom te verwesenlik!

Ek werk nog steeds aan my suksesverhaal – ek is nou eers in my eerste jaar, en moet nog my honneurs- and meestergraad voltooi voordat ek kan praktiseer – en hopelik sal my suksesverhaal daarna  gepubliseer word!

Volgens ‘n nuwe studie gedoen in 2022 deur die Witwatersrandse Universiteit, lei 25.7% Suid-Afrikaners aan angs en depressie, maar die meeste mense doen niks daaraan nie. Dit is skrikwekkend, en ek wonder hoeveel van hierdie mense kan enige vorm van sielkundige hulp en berading bekostig. Ek glo dat sielkundige hulp vir almal beskikbaar moet wees, nie net vir diegene wat dit kan bekostig nie. Hopelik kan ek na my studies bydra om te sorg dat professionele sielkundige hulp vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar kan wees.